Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Eskom konsentreer op een jaar sonder beurtkrag
# Frankryk sê Europa loop die gevaar om deur die Trump-administrasie oorheers, onderdruk en gemarginaliseer te word
# En, tennis: Paula Badosa en Alexander Zverev dring deur na die Australiese Ope se halfeindronde
# Suid-Afrika het om middernag 300 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag beleef en Eskom skryf dit toe aan die Opwekkingsherstelplan. Die kragverskaffer sê hierdie mylpaal is gekenmerk deur ‘n aansienlike afname in onbeplande kragonderbrekings, ʼn verbetering van sowat sewe-persent in die energie-beskikbaarheidsyfer en dieselbesparing van ongeveer 16,42-miljard-rand. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle konsentreer daarop om teen middernag op 26 Maart ʼn jaar sonder beurtkrag te bereik:
# Die Stad Tshwane sê hy is verbind tot die versekering van leerders sowel as gemeenskappe se veiligheid en welstand hierdie akademiese jaar. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê in woonbuurte soos Soshanguve, Mamelodi, Olievenhoutbosch, Bronkhorstspruit, Hammanskraal en Atteridgeville bly verkope van onveilige kos steeds ‘n uitdaging. Hy sê spaza-winkels, wat dikwels dien as baie gesinne se hoofbron vir bekostigbare kos, het teikens geword vir misdadige netwerke wat onveilige kos verkoop.
# Frankryk sê Europa loop gevaar dat die beleid van die nuwe Amerikaanse president, Donald Trump, die vasteland kan oorheers, onderdruk en marginaliseer, indien hulle dit aanvaar. Die Franse eerste minister, Francois Bayrou, sê Amerika het besluit op ‘n oorheersende politieke beleidsrigting, soos blyk uit die nuwe administrasie se beleid oor die dollar, nywerheid en belegging. Die Franse president, Emmanuel Macron, het selfs voor Trump se verkiesing die belangrikheid beklemtoon dat Europa ‘n strategiese outonomie moet handhaaf deur minder afhanklik van Amerika te wees, veral ten opsigte van verdediging.
# Tennis: Die gewese wêreld-nommer-twee, Paula Badosa, is deur na die eerste Grand Slam-halfeindronde van haar loopbaan nadat sy die wêreld-nommer-drie, Coco Gauff, in die Australiese Ope verslaan het. Die Spanjaard het die Amerikaner 7-5, 6-4 geklop in haar eerste oorwinning oor ‘n toptien-speler in ‘n Grand Slam-toernooi. In die mansafdeling het die Duitser Alexander Zverev nog ‘n Amerikaner, Tommy Paul, in vier stelle geklop om sy derde halfeindronde in Melbourne te haal. Badosa is in die wolke oor haar vertoning:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-206-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-726-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-98-sent per vat.
# En ten slotte: Die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram sê die kitsmode-bedryf is die tweede grootste waterverbruiker en verantwoordelik vir ongeveer tien-persent van die wêreld se koolstofvrystellings. Die term “kitsmode” verwys na klere wat vinnig en goedkoop vervaardig word en die jongste loopplank-modes naboots. Die VN sê die bedryf laat waterbronne opdroog en besoedel riviere en strome terwyl 85-persent van alle tekstiel jaarliks op die vullishoop beland. Volgens die VN se Raamwerkkonvensie oor Klimaatsverandering sal vrystellings net uit tekstielvervaardiging teen 2030 met 60-persent opskiet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….