Nuus 08:00
BULLETIN 21 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê dit kan twee jaar neem om weer ‘n beleggingsgraad-gradering te verkry
# Die VF Plus doen ‘n beroep op Ramaphosa om minister Ntshavheni te skors
# En Donald Trump verleen kwytskelding aan nagenoeg duisend-500 6 Januarie-betogers
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê Suid-Afrika kan sy beleggingsgraad-kredietgradering binne twee jaar terugkry. Die land is in 2020 tot volle rommelstatus afgradeer toe Moody’s Ratings sy skuld-assessering afwaarts aangepas en die land die eerste keer in 25 jaar sonder ‘n beleggingsgraad-gradering gelaat het. Godongwana sê in ʼn SABC-onderhoud by die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, die regering fokus op strukturele hervormings om die land se potensiële ekonomiese groeikoers te verbeter:
# Die GOOD Party verwelkom die ondersoek na die uitgelekte ouditverslag van die Stad Tshwane vir die 2023/2024-boekjaar, wat toon dat die metro weer op ‘n gekwalifiseerde oudit ontvang het. Die ouditeur-generaal, Tsakane Maluleke, sou die verslag eers volgende Donderdag aan die raad voorlê. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê in die lig van die bevindings, is die party bly hy het in September die leierskapsverandering in die metro ondersteun.
# Die Vryheidsfront Plus sê president Cyril Ramaphosa moet bewys hy neem beloftes om korrupsie uit te roei ernstig op en die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, onmiddellik skors. Dit volg na die afhandeling van die Valke se ondersoek na ʼn tender van 2,5-miljoen-rand waarby Ntshavheni in 2009 betrokke was tydens haar termyn as munisipale bestuurder van Ba-Phalaborwa-munisipaliteit in Limpopo. Sy word beskuldig dat sy ʼn onregmatige kontrak vir boekhouding toegeken het waarvan die koste skerp gestyg het. Die VF Plus sê die bewerings teen die minister is ernstig en kommerwekkend.
# President Donald Trump van Amerika het talle uitvoerende bevele onderteken, en onder meer 78 van sy voorganger, Joe Biden, se beleide herroep. Hy het sowat eenduisend-500 beskuldigdes vrygespreek wat aangekla word van die aanval op die Kongresgebou op 6 Januarie 2021, en ses vonnisse versag. Deur die kwytskelding het Trump volle begenadiging toegestaan aan mense wat reeds skuldig bevind is aan misdade soos aanranding op polisielede en saakbeskadiging. Hy het ook uitvoerende bevele onderteken wat onwettige immigrasie op die grens tussen Amerika en Mexiko as ʼn nasionale noodsituasie verklaar.
# Krieket: Die Paarl Royals het hul derde agtereenvolgende oorwinning behaal en die Joburg Super Kings met ses paaltjies verslaan om weer boaan die SA20-punteleer te beland. Jonny Bairstow het 60 lopies behaal en Bjorn Fortuin het twee paaltjies platgetrek en die Super Kings is beperk tot 146 vir ses. Daarna het Mitchell van Buuren en kaptein David Muller ʼn vennootskap van 71 lopies op die vierde paaltjie aangeteken om die wedstryd te beklink. Die Royals het die teiken in 19 boulbeurte en een bal bereik. Fortuin sê hulle is in ʼn goeie posisie met die uitspeelwedstryde wat naderkom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-760-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-724-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….