Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verwelkom die wapenstilstand in Gaza en herbevestig sy steun vir Palestina
# Krieket: Rishabh Pant word aangewys as kaptein van Lucknow Super Giants in die IPL
# En pous Franciskus stuur ‘n boodskap aan die inkomende Amerikaanse president, Donald Trump
# Die ANC verwelkom die wapenstilstand tussen Israel en Hamas want dit is ‘n belangrike stap na vrede in Gaza. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, het die media oor die uitkomste van die spesiale vergadering van die nasionale uitvoerende komitee ingelig. Hy het die party se jarelange steun vir Palestina herbevestig en sy verbintenis tot menseregte herhaal:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê voorlopige data oor padongelukke in die feestyd toon 87-persent van die voorvalle was weens menslike faktore, insluitend spoed, dronkbestuur en roekelose gedrag. Sy vra Suid-Afrikaners om hul padgewoontes te verander omdat botsings weens verkeerde besluite meer lewens eis. Creecy vra aanspreeklikheid en strenger maatreëls om padveiligheid af te dwing:
# ‘n Tiener het skuld beken op verlede jaar se moord op drie jong meisies wat die gewelddadigste onluste in Brittanje in ‘n dekade veroorsaak het. Die 18-jarige Axel Rudakubana het aan die begin van sy verhoor erken hy het die drie meisies met ‘n skerp voorwerp doodgesteek by ‘n Taylor Swift-dansklas in Southport. Die aanvalle het onluste ontketen in verskeie Engelse en Noord-Ierse dorpe en stede. Rudakubana is in Wallis gebore en sy ouers is van Rwandese oorsprong. Hy sal Donderdag gevonnis word.
# Krieket: Die rekordhouer-paaltjiewagter Rishabh Pant is as kaptein van die Indiese Premierligaspan, Lucknow Super Giants, aangewys vir die komende uitgawe van die glansryke T20-toernooi. Die 27-jarge het ʼn nuwe IPL-rekord opgestel toe hy in November se veiling vir 60-miljoen-rand opgeraap is. Pant is ʼn flambojante linkerhandse kolwer en het verlede seisoen na ʼn afwesigheid van 14-maande na ʼn motorongeluk, as kaptein van Delhi Capitals teruggekeer. Sy en Delhi se paaie het egter geskei nadat hulle in die 2024-seisoen sesde uit die tien spanne geëindig het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-696-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-711-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-90-sent per vat.
# En ten slotte: Pous Franciskus versoek die inkomende Amerikaanse president, Donald Trump, om ‘n samelewing te lei met geen ruimte vir haat nie en vrede en versoening onder mense te bevorder. Die 88-jarige pous het voor Trump se inhuldiging onderneem om vir hom tot die Almagtige God te bid vir wysheid, krag en beskerming. Franciskus sê hy hoop die Amerikaanse volk sal onder Trump se leierskap floreer en altyddeur daarna streef om ‘n meer regverdige samelewing te bou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….