Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die verhoging van 8,5-persent in die nasionale minimum loon het ‘n minimale uitwerking op indiensneming gehad
# Die regering waarsku studente om versigtig te wees vir ongeregistreerde kolleges
# En, rugby: Suid-Afrikaanse spanne reis na Europa vir die Uitdaagbeker se ronde van 16
# ‘n Studie deur die Navorsingseenheid oor Ontwikkelingsbeleid van die Universiteit van Kaapstad het bevind die verhoging van 8,5-persent in die nasionale minimum loon in 2024, het ‘n minimale uitwerking op indiensneming gehad, en werksverliese en verminderde ure het werkers net effens beïnvloed. Slegs 20-persent van die 5,4-miljoen kwalifiserende werkers het egter die volle verhoging ontvang. Daarbenewens bly voldoening ‘n noemenswaardige uitdaging ondanks die loonverhoging wat beskerming bied vir lae-inkomste werkers. Die voorgestelde verhoging vir 2025 is inflasie plus 1,5-persent.
Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê intussen die nasionale minimum loon het ‘n geraamde 430-duisend werksgeleenthede vernietig sedert dit in 2019 ingestel is. Die organisasie versoek die Minimumloonkommissie om die loon met 25-persent te sny, wat hy glo tot ‘n half-miljoen werksgeleenthede kan terugbring. Woordvoerder Gabriel Crouse sê 39-persent van werkers verdien nou minder as die minimum loon en waarsku dat die voorgestelde verhoging werkloosheid sal vererger:
# Die regering het ‘n waarskuwing uitgereik aan voornemende studente om nie by ongeregistreerde of swendelkolleges in te skryf nie. ‘n Swendelkollege is ‘n opvoedkundige instelling wat nie amptelik geregistreer is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, opleidingsowerhede of ander toepaslike beheerliggame nie. Die departement se woordvoerder, Kgomotso Ranoto, sê kwalifikasies wat by hierdie vals instansies verwerf word kan nie vir werksdoeleindes of verdere studie gebruik word nie:
# Rugby: Die Bulle, Haaie en Leeus reis in April na Europa om in die ronde van 16 in die Uitdaagbeker te speel. Die Haaie speel teen Lyon, die Bulle teen Aviron Bayonnais en die Leeus teen Edinburgh. Die Haaie is uit die Kampioenebeker geskakel na ‘n nederlaag van 66-12 teen Bordeaux-Bègles. Die Bulle het vir die laaste 16 van die Uitdaagbeker gekwalifiseer deur Stade Francais in Pretoria 48-7 te klop. Die Leeus het hul uitspeelplek verseker met ‘n sege van 60-10 oor die Dragons.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-23-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-711-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-53-sent per vat.
# En ten slotte: Die projek 67 Komberse vir Nelson Mandeladag herdenk vanjaar elf jaar van die verspreiding van warmte en eenheid met ‘n spesiale geleentheid Saterdag, by The Farmhouse by Steyn City in Gauteng. Mense wat die geleentheid bywoon, word aangemoedig om handgemaakte komberse of wol te skenk. Hierdie bydraes sal deel wees van die bekendstelling van die grootste kombers in die wêreld op 20 Maart by die Nelson Mandela-universiteit, ter viering van die Verenigde Nasies se Internasionale Dag van Geluk. Stigter Carolyn Steyn sê hierdie projek het ‘n simbool van liefde geword.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….