Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad sê die popsensasie Robbie Williams, die wêreldberoemde rock-groep Green Day en ‘n sterbelaaide groep plaaslike kunstenaars gaan die verhoog deel tydens ‘n opwindende musiekervaring van twee dae. Die stad is in sy noppies oor sy steun vir die tweede uitgawe van Calabash South Africa, Woensdag en Donderdag op die Kaapstad-stadion. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê Williams is die hoof-trekpleister op die eerste dag na sy verstommende verkope van 80-miljoen plate en 14 nommer een-treffers:
Kaapstad sê intussen hy bly vasberade om die opgraderings aan Tableview se waterkant af te handel en te verseker dat die oorblywende werk aan die hoogste standaarde voldoen Die projek het sedert verlede jaar verskeie struikelblokke ondervind, insluitend die beëindiging van die kontrakteur se kontrak met die metro weens voortdurende kwessies oor vordering en die versuim om spertye te haal. Die onderburgemeester, Eddie Andrews, sê hulle sal nuwe kontrakteurs aanstel sodat die werk teen April kan hervat.
# Die projek 67 Komberse vir Nelson Mandeladag herdenk vanjaar elf jaar van die verspreiding van warmte en eenheid met ‘n spesiale geleentheid Saterdag, by The Farmhouse by Steyn City in Gauteng. Mense wat die geleentheid bywoon, word aangemoedig om handgemaakte komberse of wol te skenk. Hierdie bydraes sal deel wees van die bekendstelling van die grootste kombers in die wêreld op 20 Maart by die Nelson Mandela-universiteit, ter viering van die Verenigde Nasies se Internasionale Dag van Geluk. Stigter Carolyn Steyn sê hierdie projek het ‘n simbool van liefde geword.
# Die Pitso Mosimane-sokkerprogram vir die jeug word geloof vir sy rol om sokker op voetsoolvlak te bevorder. Die projek is reeds drie jaar aan die gang en het uitgebrei na talle skole in Kaapstad en Mpumalanga waar dit help om jong talent landwyd te ontwikkel. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se tegniese direkteur, Walter Steenbok, het aan SABC News vertel sulke programme is uiters belangrik om ontwikkeling te versnel:
# En ten slotte: Die Disney-fliek Mufasa: The Lion King was die naweek steeds nommer een by Noord-Amerikaanse kaartjiekantore. One of Them Days van Sony met Keke Palmer en sanger SZA in die hoofrolle, het sy debuut op nommer twee gemaak. Dis die eerste swart komedie met vroue as hoofkarakters sedert Girls Trip in 2017. Universal se herverwerking van Wolf Man wat na verwagting die eerste plek sou haal, was derde. Paramount se gesinsfliek, Sonic the Hedgehog 3, was na vyf naweke vierde en Lionsgate se Den of Thieves 2: Pantera was vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….