Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minimum loon kry die skuld vir 430-duisend werkverliese
# ‘n Politieke ontleder vra Afrika-regerings om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie krisisse
# En, tennis: Jannik Sinner en Madison Keys is deur na die kwarteindronde van die Australiese Ope
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die nasionale minimum loon het ‘n geraamde 430-duisend werksgeleenthede vernietig sedert dit in 2019 ingestel is. Die organisasie versoek die Minimumloonkommissie om die loon met 25-persent te sny, wat hy glo tot ‘n half-miljoen werksgeleenthede kan terugbring. Woordvoerder Gabriel Crouse sê 39-persent van werkers verdien nou minder as die minimum loon en waarsku dat die voorgestelde verhoging werkloosheid sal vererger:
# Die Stad Tshwane stel ondersoek in nadat sy finansiële ouditverslag vir die 2023/’24-boekjaar uitgelek het. Die verslag wat aan Moneyweb uitgelek is, onthul ‘n gekwalifiseerde ouditmening en onregmatige uitgawes van 2,3-miljard-rand teenoor die 1,9-miljard-rand van die vorige boekjaar. Ouditeur-generaal Tsakane Maluleke het ook verkwistende uitgawes van 347-miljoen-rand uitgelig, terwyl ongemagtigde uitgawes van 423-miljoen- tot 2,1-miljard-rand geklim het. Die metro sê die oorsprong en akkuraatheid van die inligting is onseker.
# Die politieke ontleder Kenneth Mokgathle doen ‘n beroep op Afrika-regerings om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie krisisse en volhoubare oplossings te kry. Hy sê in die noorde van Mosambiek is ekstremistiese groepe soos Al-Shabaab verantwoordelik vir wreedaardige aanvalle en die dood van mense, terwyl nog ‘n ekstremistiese groep, Boko Haram, verwoesting saai in Nigerië. Mokgathle sê dit is betreurenswaardig dat volksmoord gepleeg word in Soedan, maar Amerika en Europa is meer uitgesproke daaroor as Afrika-leiers:
# Tennis: Die verdedigende kampioen en wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, is deur na die kwarteindronde van die Australiese Ope. Die Italianer het in die hitte gesukkel en ʼn mediese verposing gevra voor hy Holger Rune van Denemarke in vier stelle verslaan het. Sinner speel volgende teen die Australiër Alex de Minaur of die Amerikaner Alex Michelsen. In die vroueafdeling het Madison Keys van Amerika Elena Rybakina van Kazakstan in drie stelle geklop. Sinner sê dit was ʼn moeilike wedstryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-213-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-707-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die Zulu-koning, Misuzulu kaZwelithini, het sy troue met Nomzamo Myeni afgestel wat hierdie naweek sou plaasvind. Hy het in ‘n brief die onttrekking van Myeni se koninklike voordele en sekerheid versoek, met verwysing na redes buite die koningshuis se beheer. Volgens Daily Maverick volg die besluit te midde van bewerings oor Myeni se vorige verhoudings en ‘n hofgeding deur die koning se vervreemde vrou, koningin Ntokozo Zulu, oor bekommernisse oor veelwywery. Die kansellasie volg nadat ‘n koninklike vertroueling, prins Simphiwe Zulu, afgedank is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….