Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# ‘n Studie in Nature Energy het onthul dat slegs sewe-persent van groenwaterstofprojekte in die wêreld uitgevoer is. Dit bied uitdagings vir Suid-Afrika se Billike Energieoordrag-beleggingsplan omdat die hoë koste ʼn belangrike struikelblok is. Die koste van groenwaterstof is tans tussen 94- en 113-rand per kilogram teenoor 28-rand per kilogram vir gryswaterstof. Navorsers van die Potsdam-instituut vir navorsing oor klimaatsgevolge voorspel die koste kan teen 2037 daal. Kenners stel subsidies, duidelike regulasies en koolstof-prysvasstelling voor om mededingendheid te bevorder.
# Navorsers aan die Universiteit van Essex en Edinburgh sê ‘n kommerwekkende verband bestaan tussen lugbesoedeling en kardiovaskulêre gesondheid in Afrika. Meer as 70-persent van sterftes wêreldwyd wat met lugbesoedeling verband hou, is weens hart- en bloedvatsiektes. In Afrika is kardiovaskulêre sterftes tans die tweede grootste oorsaak van sterftes naas oordraagbare siektes. Kenners sê Afrika se lugbesoedelingsvlak is drie maal hoër as in hoë-inkomstelande en ingrypings in openbare gesondheid moet daarom dringend uitgebrei word.
# En ten slotte: ʼn Rekordstyging in die atmosfeer se koolstofdioksiedvlakke in 2024 het pogings ontspoor om aardverwarming tot 1,5-grade Celsius te beperk. Volgens die Verenigde Koninkryk se Weerkantoor het koolstofdioksiedvlakke tussen 2023 en 2024 met byna 3,6 deeltjies per miljoen molekules toegeneem tot ʼn nuwe hoogtepunt van meer as 424. Dit word toegeskryf aan fossielbrandstof-vrystellings, swakker koolstof-sinksels, veldbrande en die uitwerking van die El Niño-natuurverskynsel. Daar is verlede week bevestig dat 2024 die warmste op rekord was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….