Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF verwelkom Amerika se voorneme om sanksies teen Kuba te verlig
# Die polisie soek na vermeende baasbrein in die misdade in Stilfontein
# En die Springbok-rugbyspeler Manie Libbok is onder die wenners op die Wes-Kaapse Sporttoekennings
# Die EFF verwelkom die Amerikaanse president, Joe Biden, se voorneme om Kuba te verlos van die onregverdige benaming as staatsborg van terrorisme. Die party sê die besluit, wat twee dae gelede aangekondig is, bewys die onaanvegbare waarheid dat die sanksies teen Kuba nog altyd ‘n polities gemotiveerde aanval was. Die EFF sê Amerika het sedert die presidensie van Ronald Reagan aanhoudend ‘n ekonomiese embargo en sanksies teen Kuba volgehou, met die doel om die kommunistiese regering te destabiliseer.
Die Kommunisteparty van Swaziland het Kuba intussen gelukgewens met sy geskiedkundige oorwinning. Woordvoerder Simphiwe Dlamini sê die party vra nou die Amerikaanse regering om die eensydige, onwettige en onregverdige blokkade geheel en al op te hef. Hy sê die oorblywende elemente van die blokkade is oorblyfsels uit die Koue Oorlog:
# Die polisie in Noordwes het ‘n soektog van stapel gestuur na ‘n voortvlugtige sindikaatbaas, James Neo Tshoaeli, wat as “Tiger” bekendstaan. Hy word gekoppel aan ondergrondse misdade by myne in Stilfontein. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê maksimum hulpbronne is gemobiliseer en beloof aanspreeklikheid vir amptenare wat Tiger se ontsnapping uit aanhouding moontlik gemaak het. Sy sê die verdagte, wat aangekla word van aanranding, marteling en opgaring, word as uiters gevaarlik beskou:
# China het ‘n man tereggestel wat in November 35 mense in ‘n moordtog met ‘n motor doodgery het in die suidelike stad Zhuhai. Dit is die dodelikste massa-aanval in die land in jare. Die 62-jarige Fan Weiqiu het doelbewus met ‘n klein sportnutsvoertuig deur ‘n groep mense gery wat buite ‘n sportkompleks geoefen het, en ook 45 beseer in China se ergste misdaad sedert 2014. Hy is verlede maand ter dood veroordeel. Die hof het bevind die motief was verwerplik en die misdaad self uiters boosaardig.
# Sportnuus: Die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het alle benoemdes en wenners van die provinsiale sporttoekennings gelukgewens. Die seremonie is in die Paarl gehou. Een van die wenners is die Springbok-rugbyspeler Manie Libbok, wat die Ministeriële Vermelding-prys ontvang het. Mackenzie sê die fietsryer Alan Hatherly is as sportman van die jaar gekroon en die potspel-wêreldkampioen, Tasneem Solomons, is die sportvrou van die jaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-560-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-704-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….