Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie soek na ‘n vermeende baasbrein in misdade op Stilfontein
# Krieket: Gerald Coetzee kan steeds die Proteas se groep vir die Kampioenetrofee-toernooi haal ten spyte van ‘n besering
# En Mufasa: The Lion King is steeds koning by kaartjiekantore
# Die polisie in Noordwes het ‘n soektog van stapel gestuur na ‘n voortvlugtige sindikaatbaas, James Neo Tshoaeli, wat as “Tiger” bekendstaan. Hy word gekoppel aan ondergrondse misdade by myne in Stilfontein. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê maksimum hulpbronne is gemobiliseer en beloof aanspreeklikheid vir amptenare wat Tiger se ontsnapping uit aanhouding moontlik gemaak het. Sy sê die verdagte, wat aangekla word van aanranding, marteling en opgaring, word as uiters gevaarlik beskou:
# Die DA sê hy veroordeel ten sterkste die aankondiging van die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, oor die skepping van ‘n transformasiefonds van 100-miljard-rand, om uitsluitlik swart ondernemings by te staan. Die minister het op ‘n parlementêre vraag geantwoord dit sal befonds word deur bykomende kodes vir swart ekonomiese bemagtiging in die private sektor af te dwing. DA-woordvoerder Toby Chance sê die regering kan nie eensydig belasting of nuwe finansiële verpligtinge op ondernemings lê sonder behoorlike wetgewende prosedures nie:
# President Cyril Ramaphosa sê een van die boodskappe wat die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Wêreldekonomiese Forum in Switserland sal neem, is die land se voortdurende fokus op vennootskappe in sy strewe na groei en volhoubare ontwikkeling. Die vergadering vind plaas te midde van Suid-Afrika se oorname van die presidentskap van die Groep van 20. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die G20 lê klem op die bevordering en samewerking tussen lande oor die wêreld se knellendste kwessies.
# Krieket Suid-Afrika sê Gerald Coetzee kan steeds vir die komende Kampioenetrofee-toernooi gekies word en ‘n besluit hieroor sal in die eerste week van Februarie geneem word. Die snelbouler het aan die res van die huidige SA20-toernooi onttrek weens ʼn agterkniesening-besering. Hy sou Anrich Nortjé vervang wat weens ʼn besering nie aan die 50-boulbeurttoernooi in Pakistan kan deelneem nie. KSA sê die Proteas se mediese span sal Coetzee se herstel fyn dophou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 22-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-688-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-705-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die Disney-fliek Mufasa: The Lion King was die naweek steeds nommer een in Noord-Amerikaanse kaartjiekantore. One of Them Days van Sony met Keke Palmer en die sangeres SZA in die hoofrolle, het sy debuut op nommer twee gemaak. Dis die eerste swart komedie met vroue as hoofkarakters sedert Girls Trip in 2017. Universal se herverwerking van Wolf Man wat na verwagting die eerste plek sou haal, was derde. Paramount se gesinsfliek, Sonic the Hedgehog 3, was na vyf naweke vierde en Lionsgate se Den of Thieves 2: Pantera vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….