Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Stad Tshwane stel ondersoek in na die uitlek van die metro se ouditverslag vir die 2023/24-boekjaar wat toon dat hy nog ‘n gekwalifiseerde oudit ontvang het. Die verslag is reeds Vrydag deur Moneyweb gepubliseer voordat dit uitgereik is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens die ANC het net twee opsies om sy provinsiale uitvoerende komitees in Gauteng en KwaZulu-Natal te hanteer. Die eerste opsie is om hulle te ontbind en die tweede is om die komitees te versterk deur die ontplooiing van NUK-lede.
Dan skryf die blad ‘n oogspesialis van Johannesburg, die 68-jarige dokter Louis Kruger, se liggaam is naby sy huis in Knysna aangetref. Dit blyk dat hy die slagoffer van ‘n fietsongeluk was.
En laastens word berig Palestyne het gister die strate ingevaar en feesgevier omdat hulle kan terugkeer na hul huise in Gaza.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf die voorgestelde Wetsontwerp op Nasionale Staatsondernemings, wat vir openbare kommentaar vrygestel is, het skerp kritiek uitgelok omdat dit moontlik die weg gebaan het vir hernude staatskaping.
Tweedens berig die koerant die geskil tussen die polisie en die vakbond Giwusa oor die beweerde gebruik van plofstof by skag 10 van die Buffelfontein-goudmyn naby Stilfontein, duur voort.
En laastens is daar nuus oor die polisiebevelvoerder van Eldoradopark, brigadier Mkhacani Maluleke wie se verwyderingsversoek na die ministerie verwys is.
# Sowetan:
Berig die polisie sê Januarie en Februarie is die twee belangrikste maande vir swendelaars wat desperate universiteitstudente met vals behuisingsaanbiedinge teiken voor die begin van die akademiese jaar.
# En The Citizen:
Lei met: “GUNS SILENT AT LAST”. Die koerant skryf die langverwagte skietstilstand tussen Israel en Hamas is ‘n werklikheid met duisende ontheemde, oorlogsmoeë inwoners van Gaza wat huis toe stroom.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor die VSA se sogenaamde T-dag vandag met die inhuldiging van president Donald Trump.
Dan skryf die koerant belastingbetalers het reeds 118-miljoen-rand opgedok vir staatsamptenare wat geskors is. Van die amptenare is tot 5 jaar geskors teen volle vergoeding.
Voorts word ook berig oor dokter Louis Kruger.
En laastens word berig daar word ondersoek ingestel na die vyf oorlewingspakke van skeepslui wat in Valsbaai gedryf het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die afgelope naweek was daar twee afsonderlike ontvoeringsvoorvalle in Nelson Mandelabaai, waartydens gewapende aanvallers twee sake-eienaars in voertuie gedwing en ontvoer het.
En tweedens skryf die koerant ’n jaar nadat sy skuldigbevinding aan rampokkery en perlemoen-stropery tersyde gestel is, is Julian Brown vir beweerde aanranding gearresteer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf alle oë is gerig op die toekoms van die ANC in KwaZulu-Natal.
En berig tweedens die Zoeloe-koning, Misuzulu ka Zwelithini het sy troue gekanselleer.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die liggaam van ’n sekerheidsbeampte by die diamantmaatskappy, Namdia is in ’n stoorkamer gevind met sy hande en bene vasgebind. Daar is ‘n onbekende aantal diamante gesteel en die polisie is op soek na twee verdagtes.
Dan skryf die koerant die Kieswet word gekritiseer, veral omdat staatsamptenare vir ’n tydperk van vier maande nie salarisse mag ontvang nie.
En laastens word berig Namibiërs het nog tot 31 Januarie om die fliek Skeleton Coast in Ster-Kinekor se teaters te sien voordat dit op ’n internasionale stromingsplatform uitgereik word.