Nuus 13:00
BULLETIN 19 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê Suid-Afrika staan vas in solidariteit met die mense van Palestina
# Die Israelse eerste minster sê die Gaza-skietstilstand sal nie begin voor die name van die gyselaars vrygestel is nie
# En tennis: Alcaraz is deur na die kwarteindstryd van die Australiese Ope
# Die sekretaris-generaal van die ANC Fikile Mbalula sê met die Israel-Hamas-skietstilstand wat vandag verwag word, staan Suid-Afrika steeds vas in solidariteit met die mense van Palestina. Mbalula het die media toegespreek tydens die ANC se eerste gewone nasionale uitvoerende komiteevergadering van die jaar in Boksburg, Ekurhuleni. Hy sê Suid-Afrika oefen reeds maande lank druk uit vir ‘n skietstilstand en diegene wat die verwoesting van die volksmoord voortgesit het, moet voor stok gekry word:
In die jongste verwikkeling het die Israeliese eerste minister, Israel Benjamin Netanyahu, die weermag opdrag gegee om nie met die skietstilstand in Gaza te begin nie totdat Hamas die name uitgereik het van die gyselaars wat vrygelaat sal word. Volgens ‘n verklaring van sy kantoor het die eerste minister die Israelse weermag ingelig dat die skietstilstand, wat veronderstel was om half-nege vanoggend, plaaslike tyd, te begin, nie in werking sal tree voordat Israel die lys het van die vrygelate ontvoerdes wat Hamas onderneem het om te gee nie.
# Die Save South Africa-burgerlike beweging het die nugter denke van die minister van Samewerkende Regering en Tradisionale Sake Velenkosini Hlabisa verwelkom om die besluit te laat vaar om 67-duisend werkers van die gemeenskapswerke-program aan die einde van die maand af te dank. Die woordvoerder Tebogo Mashilompane sê die beweging vra Hlabisa om nie net die besluit om die kontrakte te laat vaar, om te keer nie, maar om te verseker dat die salarisse van die gemeenskapswerkers nie minder as die minimumloon is nie:
# Die ANC in Johannesburg het die stadsraad se besluit verwelkom om die aanstelling te bevestig van die bedryfshoof, Tshepo Makola, as die waarnemende stadsbestuurder. Die woordvoerder Masilo Serekele sê na die hofbevel wat die standbestuurder se aanstelling nietig verklaar het, het die burgemeester Dada Morero sy mag, soos uiteengesit in die raad se afwenteling van gesag, gebruik om ‘n waarnemende stadsbestuurder aan te stel, onderworpe aan goedkeuring deur die raad:
# En tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen Carlos Alcaraz is deur na die kwarteindstryd van die Australiese Ope nadat die Britse 15de gekeurde Jack Draper weens ‘n besering moes uittree toe hy met 7-5, 6-1 agter was teen die Spanjaard. In nog ‘n vierde-rondestryd het die Amerikaner Tommy Paul nog ‘n Spanjaard, Alejandro Davidovich Fokina, in skoon stelle geklop. In die vroue-afdeling het die wêreld nommer een, Aryna Sabalenka van Belarus, die kwarteindstryd gehaal met ‘n 6-1, 6-2-oorwinning oor die 17-jarige Mirra Andreeva van Rusland. Die Amerikaner Coco Gauff is ook deur nadat sy Belinda Bencic van Switserland in drie stelle geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….