Nuus 11:00
BULLETIN 18 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom spaar 16,42-miljard-rand aan dieselverbruik in die huidige boekjaar
# Uiterste koue dwing die Trump-inhuldiging binneshuis
# En rugby: ‘n Bok-versterking vir die Stormers in Parys
# Eskom het onthul sy voortgesette opskorting van beurtkrag het 16,42-miljard-rand gespaar aan dieselonkoste. Die woordvoerder Daphne Mokwena sê die dieselbesparking is omtrent 62,9-persent minder as die 26,09-miljard-rand wat in dieselfde tydperk verlede jaar gebruik is, as gevolg van die voortdurende uitvoering van die operasionale herstelplan. Sy sê die dieselverbruik van 16,42-miljard-rand bly onder die begroting vir die jaar-tot-datum:
# Die diefstalsaak van meer as een-miljoen-rand teen ‘n 49-jarige werknemer van Misdaadintelligensie is in die Oos-Londense Landdroshof tot Woensdag uitgestel vir ‘n borgtogaansoek. Ntombekhaya August is deur die Valke se span vir Ernstige Georganiseerde Misdaad in Oos-Londen, Oos-Kaap, gearresteer omdat sy na bewering die diefstal vanuit die kantore van misdaadintelligensie gefasiliteer het. Daar word beweer dat ‘n man, wat hom as ‘n besoeker voorgedoen het, haar met ‘n vuurwapen gedreig en met die kontant weggekom het. Sy is vyf dae later in hegtenis geneem.
# Vir die eerste keer in 40 jaar sal die verkose president Donald Trump se inhuldiging Maandag binneshuis in die Amerikaanse Capitol gehou word, eerder as buite, weens uiterste koue. Trump het op sy Truth Social-platform gesê daar is ‘n sterk Arktiese wind wat oor die land swiep en hy wil nie sien dat mense op enige manier beseer word, of daardeur geraak word nie. Hy het beveel die inhuldigingstoespraak, asook ander toesprake, moet in Amerika se Capitol Rotunda gehou word.
# Rugby: Springbokke Evan Roos en Joseph Dweba is in die opdrafspan van die Stormers vir die kragmeting vanaand in Parys teen Racing 92 in die Kampioenebeker. Neethling Fouché sak saam met Dweba in die voorry. Saam met kaptein Salmaan Moerat in die tweede ry is Ruben van Heerden terwyl Willie Engelbrecht en Marcel Theunissen weerskante van die skrum sak met Roos op nommer 8. Daar is ‘n nuwe skakelpaar met die ervare Dewaldt Duvenhage en Jurie Matthee, met Clayton Blommetjies op heelagter. Afskop is tienuur vanaand.
# En, die Nasionale Raad van DBVs sê hy sal strafregtelike aanklagte aanhangig maak teen ‘n indiwidu wat in ‘n onlangse wydverspreide video alkoholiese drank, vermoedelik bier, in die bek van ‘n karp ingooi. Die woordvoerder Jacques Peacock sê die indiwidu, wat die video op TikTok gepos het as “Lethabo_Sebapo”, en opgespoor en gekontak, en die aanklag is amper afgehandel. Hy sê in die video hoor mens Sebapo lag en dit lyk of hy die video vermaaklik vind:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….