Nuus 09:00
BULLETIN 18 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom se strukturele prestasieveranderings lewer steeds voortgesette beurtkragopskorting
# Israel se kabinet bekragtig die Gaza-skietstilstandooreenkoms wat môre in werking moet tree
# En krieket: ‘n Oortuigende oorwinning vir die Sunrisers Eastern Cape oor Durban se Super Giants in SA20
# Eskom sê strukturele prestasieveranderings by die nutsmaatskappy het die voortgesette opskorting van beurtkrag oor nege maande gehelp, ter ondersteuning van die land se sosio-ekonomiese groei. Die woordvoerder Daphne Mokwena sê Eskom het 296 agtereenvolgende dae sonder die instelling van beurtkrag bereik. Sy sê teen Maandag om middernag sal die kragvoorsiener 300 dae van beurtkragopskorting vir die Suid-Afrikaanse ekonomie bereik, ‘n mylpaal wat nie sedert Junie 2018 ervaar is nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare onderneem om die sluiting van Ithalabank te beveg nadat die Omsigtigheidsowerheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank stappe begin doen het om dit te likwideer. Die VSA voer aan die bank speel ‘n deurslaggewende rol in die ondersteuning van die geskiedkundig gemarginaliseerde gemeenskappe in KwaZulu-Natal asook klein ondernemings. Woordvoerder Mlungisi Ndlovu blameer die onbillike toepassing van bankreëls en versoek die regering om op te tree en te help om deur herstrukturering of vennootskappe die bank te red:
# Die Parlementêre portefeuljekomitee oor Gesondheid dring aan op die instelling van gesondheidsondersoeke voor inlywings in die lig van toenemende inlywingsverwante sterftes in die Oos-Kaap. Die komitee is besorg oor die gebrek aan mediese ondersoeke vir jong mans, wat tot sterftes bydra. Die komiteevoorsitter, Sibongiseni Dhlomo, sê die ondersoeke sal ouers in staat stel om ingeligte besluite te neem om die veiligheid van hul kinders te verseker, terwyl kulturele praktyke gerespekteer word:
# Israel se kabinet het die skietstilstandsooreenkoms met die Palestynse militante groep Hamas goedgekeur. Die eerste minister Benjamin Netanyahu se kantoor het vroeër vandag, een dag voor die beplande inwerkingtreding, gesê die ooreenkoms sluit ook die uitruil van gyselaars in. Die regering het in die vroeë oggend-ure, na ‘n vergadering van ses uur, die ooreenkoms bekragtig. Dit kan die weg baan vir ‘n einde aan die oorlog van 15 maande in die Palestynse enklawe, wat deur Hamas beheer word.
# En krieket: Die Sunrisers Eastern Cape, wat tans heel onder aan die punteleer is, het gisteraand op Kingsmead in Durban hulle eerste SA20-oorwinning van die 2025 seisoen ingepalm met ‘n bonuspunt, 58-lopie oorwinning oor die Durban Super Giants. Die Sunrisers het gekies om eerste te kolf en het in hulle toegelate beurte 165 vir vyf aangeteken, terwyl die gashere almal uit was vir 107. Die beste presteerders vir die besoekers was Tom Abell met 57 lopies van 39 balle af, Marco Jansen wat 36 van 26 balle af bygedra het en Zak Crawley se 38 van 29 balle af.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….