Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum versoek ‘n dringende vergadering om plaasaanvalle aan te pak
# Die sperdatum nader vir die aansoeke om matriek-uitslae her na te sien
# En, rugby: Owen Farrell maak sy terugkeer na ‘n besering teen die Stormers in Parys
# AfriForum het ‘n dringende vergadering aangevra met die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om die oplewing in plaasaanvalle hok te slaan. Daar is sedert verlede maand 33 aanvalle en sewe moorde aangemeld, met van die slagoffers wat gemartel is. Jacques Broodryk van AfriForum sê daar bestaan ‘n behoefte aan daadwerklike optrede om landelike gemeenskappe te beskerm en die landbousektor te beveilig. Hy stel verbeterde samewerking met die polisie voor om veiligheidsmaatreëls te versterk:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank wend hom tot die hof om toegang te verkry tot data van fone en rekenaars waarop beslag gelê is tydens ‘n klopjag op die eiendom van die oorlede uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, twee jaar gelede. Die bank beweer Jooste het die vrystelling van data vertraag tot sy dood in Maart verlede jaar. Die bank het ondanks die beslaglegging steeds nie toegang tot kritieke elektroniese lêers nie, insluitend e-posse en sigblaaie, wat noodsaaklik is vir voortgesette ondersoeke.
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys, Tebogo Letsie, moedig Suid-Afrikaanse instellings aan om aanlyn studies te oorweeg. Dit volg nadat 337-duisend-158 matrieks met universiteitstoelating geslaag het, maar slegs 202-duisend plekke is beskikbaar vir 2025. Die Universiteit van Johannesburg is die voorloper en het byna 359-duisend aansoeke ontvang vir net tien-duisend-900 plekke. Letsie beklemtoon kolleges vir tegniese en beroeps-onderrig kan 170-duisend studente inneem, maar waarsku teen verdagte instellings:
Die Departement van Basiese Onderwys herinner kandidate intussen om voor die sperdatum van 29 Januarie aansoek te doen vir die hernasiening of herkontrolering van matriekvraestelle. Aansoeke het op 14 Januarie geopen en dit kos 140-rand vir die hernasien van ‘n vraestel, 30-rand vir herkontrolering en 230-rand om ʼn vraestel deur te gaan. Uitslae word op 7 Maart bekend gemaak. Registrasie vir die Tweede Kans-matriekprogram sluit op 7 Februarie.
# Rugby: Die voormalige Engelse kaptein, Owen Farrell, keer môre in Parys na ʼn besering terug vir Racing 92 in die Kampioenebekerwedstryd teen die Stormers. Afrigter Stuart Lancaster sê hy sal moontlik nie die volle 80 minute speel nie. Farrell het 112 toetse vir Engeland gespeel en moet nog sy stempel afdruk in die Franse hoofstad. Hy het in agt van die eerste nege wedstryde in die Top 14 gespeel voor hy middel-November ʼn liesoperasie ondergaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-501-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-707-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….