Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank versoek hofbevel-toegang tot Markus Jooste se data
# Tennis: Naomi Osaka onttrek weens ‘n besering aan die Australiese Ope
# En Eskom word erken as 2025 se Top Werkgewer in Suid-Afrika
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank wend hom tot die hof om toegang te verkry tot data van fone en rekenaars waarop beslag gelê is tydens ‘n klopjag op die eiendom van die oorlede uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, twee jaar gelede. Die bank beweer Jooste het die vrystelling van data vertraag tot sy dood in Maart verlede jaar. Die bank het ondanks die beslaglegging steeds nie toegang tot kritieke elektroniese lêers nie, insluitend e-posse en sigblaaie, wat noodsaaklik is vir voortgesette ondersoeke.
# Die Azanian People’s Organisation versoek die regering om die bestaande beleid oor die rehabilitasie van die ongebruikte myne in die land ten volle in werking te stel. Dit volg nadat 87 liggame hierdie ween herwin en 246 onwettige mynwerkers in Stilfontein, Noordwes, gered is. Partywoordvoerder, Jabu Rakwena, sê AZAPO kan nie verstaan waarom die regering nie toesien die fonds word opgerig en deur mynmaatskappye aangewend om hierdie myne te rehabiliteer nie:
# Die man wat verdink word van Madeleine McCann se ontvoering, sal nie vir die afsienbare toekoms aangekla word nie. Die aanklaer, Hans Christian Wolters, het aan Sky News gesê daar is tans geen klagstaat in die Maddie-saak nie. Christian B, wat ingevolge Duitsland se wetgewing op privaatheid nie ten volle geïdentifiseer mag word nie, sal na verwagting later vanjaar vrygelaat word, ná hy weens ‘n onverwante saak tronkstraf uitgedien het. Die driejarige Madeleine het op 3 Mei 2007 uit die Britse gesin se gehuurde Portugese vakansiewoonstel verdwyn.
# Tennis: Die tweemalige Australiese Ope-kampioen, Naomi Osaka, moes weens ‘n besering onttrek aan haar derde ronde-wedstryd teen Belinda Bencic in Melbourne. Osaka het behandeling vir haar maag ontvang terwyl sy 6-5 voor was in die eerste stel, en het uiteindelik in die valbylpot teen die Switser verloor voor sy die baan verlaat het. Osaka moes vroeër weens ‘n buikbesering aan die eindstryd in Auckland onttrek. Die Japannese ster het verlede week onthul sy en die pa van haar dogtertjie Shai, die kletsrymer Cordae, is uitmekaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-246-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-703-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Die Instituut vir Beste Werkgewers het aan Eskom erkenning gegee as Suid-Afrika se Beste Werkgewer. Die instituut se sertifisering is gegrond op ‘n deurtastende proses, wat organisasies beoordeel volgens ses sleutel-menslike hulpbronterreine. Meer as twee-duisend-300 organisasies in 121 lande is beoordeel. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die erkenning weerspieël die uitnemende prestasie en etiese kultuur wat geleidelik gebou word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….