Nuus 11:00
BULLETIN 17 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die vennootskap tussen die regering en die sakegemeenskap fokus op hervormingsversnelling
# TLU SA ondersteun Solidariteit en AfriForum se regstryd teen die BELA-wet
# En, tennis: Sabalenka wen ‘n taai stryd en vorder na die vierde ronde in Melbourne
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet aansienlike beleggings lok wat nodig is om meer kragtige en inklusiewe ekonomiese groei aan te wakker. Die president het vergader met ministers en senior sakeleiers om die vennootskap te bevestig tussen die regering en ondernemings se toewyding aan hulle gedeelde voorneme om die ekonomie aansienlik te laat groei. Ramaphosa sê vanjaar se fokus is op die versnelling van belangrike hervormings, en sleutel-ingrypings op die gebied van energie, vervoer en logistiek, misdaad en korrupsie, en jeugindiensneming.
# Die landbou-organisasie TLU SA sê hy ondersteun Solidariteit en AfriForum se regstryd teen die bekragtiging van die omstrede Wysigingswet op Basiese Onderwyswette ten volle. Die groepe voer aan die wet skend vorige ooreenkomste en ignoreer belangrike aanbevelings deur die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, veral wat taal- en toegangsbeleid betref. Bennie van Zyl van TLU SA sê die regsuitdaging is ‘n noodsaaklike stap om die regering se vermeende magsmisbruik te bekamp:
# Die Departement van Gesondheid in Noordwes ontken gerugte dat hy sukkel om die toenemende aantal liggame van onwettige mynwerkers by die Stilfontein-mynreddingsoperasie te hanteer. Vier forensiese patologiedienste is geïdentifiseer om met die liggame te werk. Meer as ‘n duisend onwettige mynwerkers het sedert Augustus na die oppervlak gekom en meer as 80 liggame is herwin. Die departement se woordvoerder, Tshegofatso Mothibedi, sê hulle werk saam met Mosambiek, Zimbabwe en Lesotho om die oorskot van buitelandse burgers te identifiseer en te repatrieer:
# Die kantoor van die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê hy het in Doha ʼn ooreenkoms met Hamas bereik om die gyselaars in Gaza vry te laat. Netanyahu het die kabinet se stemming om die ooreenkoms goed te keur, uitgestel en Hamas beskuldig dat hy op die nippertjie veranderinge wil aanbring. Die ooreenkoms word Sondag van krag. Dit beteken gevegte word tydelik staak terwyl gyselaars en Palestynse gevangenes in fases vrygelaat word. Netanyahu sê Israel is vasberade om alle doelwitte van die oorlog te bereik.
# Tennis: Die verdedigende vrouekampioen, Aryna Sabalenka het deurgedring na die vierde ronde van die Australiese Open en sit haar poging voort vir ‘n derde agtereenvolgende titel op Melbourne Park. Die 26-jarige Belarus het die 42ste op die wêreldranglys, Clara Tauson van Denemarke, geklop. Die 11de-gekeurde Paula Badosa van Spanje het Marta Kostyuk van Oekraïne verslaan. Daar was ook oorwinnings vir Donna Vekic van Kroasië en die Rus Anastasia Pavlyuchenkova. In die mansafdeling het die Amerikaner Tommy Paul vir Roberto Carballes Baena van Spanje verslaan.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-33-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-640-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-711-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 80-dollar-62-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….