Nuus 07:00
BULLETIN 17 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake verklaar ‘n Suid-Afrikaner as terroris
# Die EFF sê die Stilfontein-tragedie kon voorkom word
# En rugby: Zain Davids vier sy 50ste Blitsbok-toernooi
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het die Suid-Afrikaner, Hendrik-Wahl Muller, as terroris verklaar weens sy bande met die transnasionale terroristegroep, The Terrorgram Collective. Muller wat in die Wes-Kaap woon, is een van drie individue wat geïdentifiseer as leiers van die groep wat hoofsaaklik op Telegram bedrywig is. Die departement sê die groep bevorder gewelddadige wit oppergesag, stel aanvalle op vermeende teenstanders voor, en verskaf riglyne en opleidingsmateriaal oor taktieke. Hy beskuldig die groep van aanvalle en pogings tot geweld, wat ‘n skietery buite ʼn LGBTQ-kroeg in Slowakye insluit.
# Die Minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, ontmoet vandag die bestuur van ArcelorMittal Suid-Afrika by hul Vanderbijlpark-aanleg. Die vergadering het ten doel om die moontlike staking van bedrywighede in KwaZulu-Natal en Gauteng te bespreek. Die minister se woordvoerder, Thobeka Magcai, sê dringende oplossings sal ondersoek word om die ekonomiese uitwerking te versag:
# Die EFF sê die tragedie wat in Stilfontein, Noordwes, afgespeel het, is ʼn weerspieëling van wetstoepassing se onbevoegdheid en intelligensiedienste se mislukking. Die reddingspoging by die Buffelsfontein-goudmyn is Donderdag gestaak nadat 246 onwettige mynwerkers en 87 liggame tussen Maandag en Woensdag uitgehaal is. Die EFF sê deur die ondergrondse mynwerkers se kos- en watervoorsiening af te sny, het die staat toestande vir ʼn humanitêre katastrofe geskep. Die party sê mynmaatskappye moet ook aanspreeklik gehou word.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ontken ʼn onderwyseres se bewerings dat sy onregverdig uit haar pos verwyder is nadat sy ʼn saak van seksuele teistering teen ʼn kollega aanhangig gemaak het. Kelly Manus beweer in ʼn TikTok-video sy het die klag teen die hoof van Symphony High School se man ingedien nadat hy op onbehoorlike wyse aan haar geraak het. Sy beweer ook die skoolhoof het gekeer dat sy permanent by die skool aangestel word. Die departement se woordvoerder, Bronagh Hammond, sê die bewerings is feitelik verkeerd:
# Human Rights Watch sê Donald Trump se presidentskap kan veroorsaak dat hy regte-skendings wat tydens sy eerste presidentskap gepleeg is, herhaal en die druk op reeds wankelende internasionale instellings vererger. Human Rights Watch sê die Republikein se terugkeer na die Withuis bedreig nie net regte in die VSA nie, maar sal ook, deur magtiging en weglating, menseregte in die buiteland beïnvloed. Die instelling sê wêreldwye verkiesings en dodelike gevegte die afgelope jaar het die integriteit van demokratiese instellings en die beginsels van menseregte uitgedaag en talle regerings het die toets gedruip.
# Rugby: Die sewes-losvoorspeler, Zain Davids, speel volgende week in Perth in sy 50ste Sewestoernooi, in die derde been van die 2024-2025 seisoen. Blitsbok-afrigter, Philip Snyman, het drie veranderings aan sy wengroep aangebring en verwelkom Selvyn Davids, Ronald Brown en Ryan Oosthuizen terug. Mfundo Ndhlovu en Tristan Leyds is weens beserings nie oorweeg nie. Die Blitsbokke speel in die groepfase teen Amerika, Australië en Argentinië. Snyman was vol lof vir Davids se leierskap as medekaptein:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-399-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-710-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….