Nuus 06:00
BULLETIN 17 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika posisioneer homself as beleggingsbestemming
# Die DA vra vir ‘n ondersoek na die Stilfontein-sage
# En motorsport: Henk Lategan verloor sy topposisie in die Dakar
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die Wêreld Ekonomiese Forum se jaarvergadering sal ‘n platform vir Suid-Afrika bied om te wys dat hy die uitdagings aanspreek wat die ekonomie en land in die gesig staar. President Cyril Ramaphosa sal volgende week Suid-Afrika se afvaardiging in Davos, Switserland, lei. Tau sê die belangrikheid van die WEF-vergadering kan nie onderskat word nie want Suid-Afrika wil homself as voorkeur-beleggingsbestemming stel:
# AgriSA sê Suid-Afrika se landboutoekoms lyk rooskleurig met die uitbreiding van BRICS, wat nuwe handelsgeleenthede bied, veral na die insluiting van Indonesië. Dit maak deure oop na Suidoos-Asië waar die vraag uitbrei na produkte van hoë gehalte, soos sitrus, beesvleis en wyn. BRICS verteenwoordig reeds meer as 40-persent van die globale bruto binnelandse produk. Die organisasie is oortuig Suid-Afrika kan BRICS en die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies benut om sy landbou-uitvoere te versterk om ‘n groter rol in globale handel te verseker sodat sy wêreldklas produkte internasionale markte bereik.
# Die Departement van Gesondheid in Noordwes vra die polisie om te verseker gearresteerde onwettige mynwerkers kan help om die 78 gestorwe mynwerkers van die Stilfontein-tragedie uit te ken. Meer as eenduisend-900 mynwerkers is gered, gearresteer en sommige is gedeporteer. Die departementele woordvoerder, Tshegofatso Mothibedi, het aan SABC News gesê ongeïdentifiseerde liggame sal as armlastiges begrawe word en DNS sal vir toekomstige identifikasie onttrek word:
Die DA het intussen president Cyril Ramaphosa versoek om ondersoek in te stel na die Buffelsfontein-mynramp in Stilfontein, Noordwes. Die DA-lid, James Lorimer het die noodsaaklikheid van ‘n omvattende ondersoek na die krisis beklemtoon nadat dit aansienlike plaaslike en internasionale aandag getrek het. Die DA vra ‘n ondersoek na die regering se optrede en die myn se bestuur om toekomstige tragedies te voorkom.
# Tongaat Hulett Zimbabwe gaan teen Augustus een-duisend poste besnoei, weens die stygende koste van arbeid en kunsmis as gevolg van Zimbabwe se valutakrisis. Woordvoerder Dahlia Garwe bevestig gefasseerde afleggings by die Hippo Valley- en Driehoek-meule. Die maatskappy se winsmarges het sedert 2022 met 55-persent gedaal, terwyl die koste van arbeid met 113-persent gestyg het. Ten spyte van operasionele uitdagings, hou Tongaat Hulett Zimbabwe vol dat hierdie kwessies nie verband hou met sy Suid-Afrikaanse moedermaatskappy se sakereddingsplan nie, wat die verkoop van sy Zimbabwiese bates insluit.
# Motorsport: Dit was ‘n geval van so naby en tog so ver. Die Saoedi-jaer, Yazeed al-Rajhi, het algeheel die voortou geneem in die motorafdeling by die Dakar-tydren in Saoedi-Arabië nadat hy derde geëindig het in gister se beslissende voorlaaste skof. Dit beteken hy is in die algehele klassifikasie nou voor Henk Lategan van Suid-Afrika. Rajhi was twee-minute-27-sekondes agter Lategan in sy Toyota. Hy het hom nie net ingehaal nie maar ook ʼn aansienlike voorsprong opgebou. Hy begin die laaste skof nou ses-minute-11-sekondes voor die Suid-Afrikaner.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-827-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-713-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….