Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die American Museum of Natural History het ses vertonings geskenk vir die heropening van die Johannesburg-planetarium. Die planetarium, wat onlangs opgeknap tot wêreldklas-standaarde opgeknap is, heropen sy deure in Februarie met ‘n nuwe era vir sterrekunde en wetenskap. Die museum se bydrae is daarop gemik om die planetarium se opvoedkundige aanbiedinge te verbeter en belangstelling in sterrekunde aan te wakker. Die vennootskap is ‘n mylpaal in die bevordering van globale samewerking in wetenskaponderrig en die vertonings sal studente, navorsers en die publiek motiveer en betrek.
# Die Noordwes-Universiteit sê hulle is daartoe verbind om inisiatiewe te ondersteun wat individue toerus met beter geleenthede vir hul eie en hul gemeenskappe se ontwikkeling. Die instelling se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum het onlangs kragte saamgesnoer met Radiokansel, I AM Youth en TBN Africa om die Pitch Your Business-kompetisie aan te bied. Die kompetisie lei deelnemers deur drie rondes om hul idees in lewensvatbare ondernemings te omskep. Die universiteit sê deur individue te bemagtig om agente vir verandering binne hul gemeenskappe te word, ontsluit hulle ‘n golf van entrepreneurskap.
# ‘n Meestersgraadstudent in handel aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, Christopher Djuma, het onlangs erkenning ontvang as een van die tien beste indiensneembare studente in die GradStar-kompetisie. Die doel van die kompetisie is om die beste gegradueerdes met werkgewers in verbinding te bring en ‘n platform te bied waarop ambisieuse studente hul potensiaal kan uitstal en ‘n netwerk met hul eweknieë en leiers in die bedryf kan vestig. Djuma sê die erkenning het sy persoonlike handelsmerk verbeter en ‘n sterker sin van selfmotivering en selfvertroue gevestig.
# Een van die skaarste en waardevolste Suid-Afrikaanse muntstukke, die “Enkel-9”-pond van 1898 is onlangs teen 40,10-miljoen-rand op ‘n veiling verkoop. Net een van dié foutiewe munte met ‘n syfer 9 op die voorkant is tydens die Anglo-Boereoorlog gemaak. Sy waarde het oor die jare tot 4,65-miljoen-rand in 1999 gestyg en is in 2010 vir 20-miljoen-rand verkoop. Ses bykomende munte is ook vir meer as een-miljoen opgeveil. Die Bassani-Afslaers sê dit is ‘n bewys van die wêreldwye waardering vir Suid-Afrika se ryk geldeenheid-erfenis.
# En ten slotte: Edward Berger se pous-riller, Conclave, wat in die Vatikaan afspeel, loop met 12 benoemings voor by vanjaar se Bafta-filmtoekennings. Dit sluit in beste film en regisseur, beste akteur vir Ralph Fiennes en beste byspeler vir Isabella Rossellini. Die Spaanse musiek-riller oor ‘n trans-Mexikaanse kartelbaas, Emilia Pérez, het elf benoemings ontvang – onder andere beste hoofrolspeler vir Karla Sofía Gascón en beste byspeler vir Selena Gomez en Zoe Saldaña. The Brutalist spog met nege benoemings, gevolg deur Anora, Dune: Part Two en Wicked met sewe. Die toekenningseremonie vind op 16 Februarie in Londen plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….