Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie bevestig ‘n spesiale hyser is ondergronds by Stilfontein-myn vir laaste ontruimingspogings
# e-Paniekknoppies geaktiveer vir onderwysers by Gauteng se hoërisiko-skole
# En, rugby: Reg of weg vir SA-spanne in Europese kompetisies hierdie naweek
# Die Polisie het bevestig daar is ‘n spesiale hyser ondergronds by die Stilfontein-skagte vir die laaste reddingspogings van onwettige mynwerkers. ‘n Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê een-duisend-907 onwettige mynwerkers het sedert 8 Augustus verlede jaar na die oppervlak gekom. Van die arrestasies sluit in, een-duisend-125 Mosambiekers, 465 Zimbabwiërs en 26 Suid-Afrikaners. Sy het bevestig sewe-en-tagtig liggame is gevind. Nege mynwerkers is onder polisiebewaking in die hospitaal:
# Die Gautengse provinsiale wetgewer het e-paniekknoppies geaktiveer vir drieduisend onderwysers by hoërisiko-skole in die provinsie. Die doel is om toenemende geweld, bendebedrywighede en misdaad te bekamp. Skole soos Eldorado Park Secondary en Glenvista High het in die verlede voorvalle soos messteke en onderonsies tussen onderwysers en leerders aangemeld. ‘n Verslag in Desember 2024 het 245 hoërisiko-skole geïdentifiseer. By 75 van hierdie skole word ingegryp met veiligheidswagte, metaalverklikkers, kringtelevisie en skoolveiligheidkomitees. Die ePanic-toepassing wil vinnige wetstoepassing in noodgevalle verseker.
# Die uittredende Amerikaanse president, Joe Biden, waarsku teen ‘n ontluikende oligargie in Amerika en benadruk die belangrikheid daarvan om die ultra-rykes aan dieselfde verwagtinge as die werkers- en middelklas te hou. Hy het gister sy afskeidstoespraak in die Oval Office gelewer met sy vier jaar in die Withuis en ‘n halfeeu in Washington wat tot ‘n einde kom. Biden het ook gevra die Grondwet moet gewysig word sodat geen president immuniteit moet hê vir misdade wat in die amp gepleeg is nie:
# Rugby: Dis ’n geval van reg of weg vir vyf Suid-Afrikaanse spanne wat hierdie naweek aan die Kampioenebeker en die Uitdaagbeker deelneem terwyl die groepwedstryde einde se kant toe staan. Die Haaie en die Stormers is albei vierde in hulle groepe en het ʼn laaste kans om te kwalifiseer vir die uitspeelwedstryde in die Kampioenebeker terwyl die Leeus en die Cheetahs albei vyfde in hulle groepe is. Albei is onder geweldige druk om te wen om hulle kanse vir die uitspeelwedstryde in die Uitdaagbeker lewend te hou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-38-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-736-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-704-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-84-sent per vat.
# Ten slotte: Edward Berger se pous-riller, Conclave, wat in die Vatikaan afspeel, loop met 12 benoemings voor by vanjaar se Bafta-filmtoekennings. Dit sluit in beste film en regisseur, beste akteur vir Ralph Fiennes en beste byspeler vir Isabella Rossellini. Die Spaanse musiek-riller oor ʼn trans-Mexikaanse kartelbaas, Emilia Pérez, het elf benoemings ontvang – onder andere beste hoofrolspeler vir Karla Sofía Gascón en beste byspeler vir Selena Gomez en Zoe Saldaña. The Brutalist spog met nege benoemings, gevolg deur Anora, Dune: Part Two en Wicked met sewe. Die toekenningseremonie vind op 16 Februarie in Londen plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….