Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is eerste aan die beurt: Die Protea-snelbouler, Anrich Nortjé, is weens ‘n rugbesering uitgesluit van die res van die SA20-toernooi en die komende Kampioenetrofee van die IKR. Die 31-jarige het sedert die T20-Wêreldbekertoernooi in Junie verlede jaar geen internasionale krieket gespeel nie. Nortjé se waarskynlike plaasvervanger in die Protea-groep vir die Kampioenetrofee is Gerald Coetzee van die Joburg Super Kings wat terug is nadat hy in November verlede jaar ‘n liesbesering opgedoen het.
Die opkomende ster, Lhuan-dre Pretorius, se kolfvernuf het Paarl Royals intussen gehelp om MI Cape Town met ses paaltjies te verslaan en na die derde plek te skuif op die SA20-puntelys. Met Rassie van der Dussen se onoorwonne 91, het MI Cape Town 158 vir vier in hul 20 boulbeurte behaal. Die 18-jarige Pretorius het daarna 83 van 52 balle aangeteken met drie sesse en agt grenshoue, en die tuisspan het hul teiken in 19 boulbeurte bereik. Pretorius sê die toestande was perfek:
# Vervolgens, tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek, en die Brit, Emma Raducanu, takel mekaar in die Australiese Ope se derde ronde. Die Pool het Rebecca Sramkova van Slowakye in die tweede ronde afgeransel terwyl Raducanu die Amerikaner, Amanda Anisimova geklop het. Ons Jabeur van Tunisië het asemhalingsprobleme oorkom en die Colombiaan, Camila Osorio verslaan. In die mansafdeling het die Amerikaner, Taylor Fritz, die Chileense kwalifiseerder, Cristian Garin, maklik verneder terwyl Alex de Minaur van Australië die Amerikaanse kwalifiseerder, Tristan Boyer geklop het.
# Nuus oor padwedlope: Een van Suid-Afrika se veelsydigste padatlete, Gerda Steyn, sê sy wil weer die rekord vir die nasionale standaard-marathon agter haar naam skryf. Daar is Woensdag bekendgemaak sy is nou lid van die Hollywood Atletiekklub in Durban. Steyn sê haar groot mikpunt vanjaar is om die titels by die Comrades en die Twee Oseane te behou, waarvoor sy vir albei ook die rekord hou:
# Ons sluit vandag af met sokker: Arsenal het hul hoop lewend gehou in die Premierliga met ‘n oorwinning van twee-een oor Tottenham Hotspur om in die tweede plek in te skuif, vier punte agter Liverpool wat eerste is. Spurs se kaptein, Heung-Min Son, het hulle laat voorloop, maar ‘n eie doel deur Dominic Solanke en ‘n doel deur Leandro Trossard het die bordjies vir die Gunners verhang. Newcastle United het drie-nul met Wolverhampton Wanderers klaargespeel vir hul sesde sege in ‘n ry in die liga, terwyl Crystal Palace vir Leicester City twee-een geklop het. Aston Villa moes het Everton een-nul getroef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….