Nuus 07:00
BULLETIN 16 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel en Hamas begin Sondag met ‘n tydelike skietstilstand
# President Ramaphosa sê die Presidensiële Ekonomiese Adviesraad is belangrik
# En die DA beskuldig minister Motsoaledi dat hy NGV bo dokterwerkloosheid stel
# Israel en Hamas het ‘n tydelike skietstilstand-ooreenkoms bereik om die oorlog van 15 maande te beëindig, en dit word Sondag van krag. Hamas sal na verwagting in die eerste fase van die ooreenkoms 33 gyselaars vrylaat. Honderde Palestynse gevangenes sal terselfdertyd uit Israelse tronke vrygelaat word. Amerika se president Joe Biden sê onderhandelings oor fase twee van die ooreenkoms kan moontlik ʼn permanente einde aan die oorlog bring:
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid wil ekonomiese groei weer aan die gang kry en armoede en ongelykheid takel. Hy het vroeër die week die eerste vergadering van die pas aangestelde Presidensiële Ekonomiese Advieskomitee vir die sewende administrasie gelei. Hy sê die vergadering het die noodsaaklikheid van strukturele transformasie en ekonomiese hervorming beklemtoon om ekonomiese groei te bespoedig. Ramaphosa sê die raad sal ʼn belangrike rol speel om onafhanklike raad te gee terwyl die regering wil seker maak ekonomiese beleide berus op behoorlike bewyse.
# Die DA versoek die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, om eerder oplossings te vind vir uitdagings met basiese gesondheidsorg voor hy soveel aandag skenk aan die Nasionale Gesondheidsversekering. Die party voer aan die toekenning verlede jaar van 1,4-miljard-rand deur die Departement van Gesondheid aan die NGV was minder geslaagd en kon slegs 50-persent van sy teikens bereik. DA-woordvoerder Michele Clarke sê die twee-duisend vakante poste in openbare hospitale verswak die gehalte van gesondheidsorg:
# Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor en die Omsigtigheidsowerheid het begin om die regulatoriese raamwerk vir begrafnisversekering in Suid-Afrika te hersien. Dit volg na kommer deur begrafnisondernemers en verteenwoordigers in die bedryf oor markdinamika en regulatoriese uitdagings. Die proses is daarop gemik om proporsionele en inklusiewe regulasies te verseker terwyl kwesbare gemeenskappe beskerm word. Belanghebbendes word genooi om aan slypskole deel te neem om ‘n gebalanseerde benadering tot die toekoms van die regulering van begrafnisversekering te help vorm.
# Die Azanian People’s Organisation sê die uitsetting van Khoisan-betogers by die Uniegebou in Pretoria onderstreep die regering se minagting van inheemse vryheidsgevegte. Hulle vra vir eenheid onder swart gemeenskappe en verwerp koloniale teorieë wat die Khoisan-identiteit verdeel en vernietig. AZAPO-woordvoerder, Jabu Rakwena, ondersteun die Khoisan-volk se aansprake vir grondbesit, kulturele erkenning en die ontwikkeling van hul taal, sowel as die teruggee van voorvaderlike nalatenskap wat tydens kolonisasie weggeneem is:
# Rugby: Die stut Jack Boyle is die enigste nuwe speler in Ierland se groep van 36 vir die Sesnasies. Die 22-jarige vervang Tom O’Toole wat ná sy rooikaart teen Munster vir ses wedstryde geskors is en dus sy land se eerste twee kragmetings sal misloop. Die vleuel James Lowe en haker Dan Sheehan is ingesluit indien hulle betyds van hul beserings herstel. Die veelsydige agterspeler, Jimmy O’Brien, en Jack Conan het reeds van hul beserings herstel. Ierland se Sesnasies-veldtog begin op 1 Februarie teen Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-32-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-993-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-696-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….