Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Laaste poging vandag vir Gaza-skietstilstand en gyselaarsooreenkoms
# Gauteng staar ‘n dreigende waterkrisis in die gesig te midde van bestuursmislukkings
# En, motorsport: Suid-Afrikaners weer bo by die Dakar-tydren
# Bemiddelaars wend vandag ‘n laaste poging aan om ‘n wapenstilstand in Gaza en ‘n ooreenkoms vir die vrylating van gyselaars te beklink. Dit volg nadat ‘n amptenaar van Katar wat by die samesprekings betrokke was, die hoop uitgespreek het dat ‘n ooreenkoms “spoedig” bereik kan word. Katar, Egipte en Amerika het pogings verskerp om ‘n wapenstilstand te bemiddel asook die vrylating van gyselaars. Die Amerikaanse president, Joe Biden, en sy Egiptiese ampsgenoot, Abdel Fattah al-Sisi, het gister in ‘n telefoonoproep saamgestem dat Israel en Hamas albei buigsaam moet wees om ʼn ooreenkoms te bereik.
# Die DA se adjunkwoordvoerder vir Water en Sanitasie, Stephen Moore, sê Dag Zero kom nader in Gauteng namate munisipaliteite byna 50-persent van sy skoon water weens lekkasies en foute verloor. Moore sê Johannesburg se reservoirvlakke het reeds tot op minder as 70-persent gedaal. Moore waarsku die stygende aanvraag na water, met die heropening van skole en ondernemings, kan die provinsie in ‘n krisis dompel. Hy bepleit belegging in infrastruktuur en onmiddellike optrede:
# ActionSA se leier, Herman Mashaba het die leier van Forum 4 Service Delivery, Mbahare Kekana aangestel as die nuwe adjunkpresident van ActionSA, met onmiddellike ingang. Hierdie stap versterk ActionSA se leierskap en vorm deel van sy pogings om opposisiepartye te verenig en ‘n lewensvatbare plaasvervanger vir die regering van nasionale eenheid te bou. Kekana se aanstelling volg op sy party en ActionSA se samewerking ter voorbereiding van die 2026 plaaslike regeringsverkiesing. Mashaba sê Kekana beskik oor waardevolle ervaring en leierskap, veral oor plaaslike regeringskwessies:
# Afrika se energiekrisis gaan moontlik vererger te midde van ʼn groeiende bevolking en onderontwikkelde netwerke. Kenners voorspel die bevolking van Afrika suid van die Sahara gaan teen 2050 verdubbel wat die vraag na energie sal laat toeneem. Oilprice.com berig die vasteland wat die minste tot koolstofvrystelling bydra, sal steeds enorme klimaatkwesbaarheid beleef en word aangeraai om fossielbrandstof met hernubare energie te vervang. ʼn Opnameverslag deur die Queen Mary University of London het ook bevind regsgeskille kan in die toekoms toeneem omdat baie nasies energie-oorgang en belastinghervorming takel.
# Motorsport: Suid-Afrikaners Henk Lategan en Brett Cummings is weer die algehele voorlopers na die tiende skof van die Dakar-tydren. Die skof is gewen deur die Spaanse jaer vir Ford, Nani Roma. Roma is Ford se eerste skofwenner by die Dakar-tydren sedert 2015. Oornag-voorloper en die plaaslike hoop, Yazeed al-Rajhi, het kosbare minute verloor nadat hy in sand vasgeval het om die voordeel aan Lategan in sy Toyota te besorg. Die Suid-Afrikaner is nou 2-minute-27-sekondes voor die Saoedi-jaer in die algemene klassifikasie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-683-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-688-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….