Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Forum 4 Service Delivery se leier doen ‘n beroep vir eenheid tussen politieke partye
# SA Toerisme verwag ‘n 616-miljoen-rand-hupstoot van 53 internasionale byeenkomste
# En, tennis: Nog ‘n tiener sorg vir ‘n opskudding by die Australiese Ope
# Die leier van Forum 4 Service Delivery, Mbahare Kekana, het ‘n beroep gedoen vir groter eenheid tussen politieke partye om Suid-Afrika se voortdurende uitdagings, soos swak dienslewering, korrupsie en jeugwerkloosheid, aan te spreek. Sy party en ActionSA het saamgespan vir die 2026 plaaslike regeringsverkiesing, waar hy onder die ActionSA-vaandel sal meeding. Kekana glo politieke partye kan, indien hulle saamwerk, die kwessies wat Suid-Afrikaners raak doeltreffend aanspreek en ‘n beter toekoms skep:
# Twee mans wat beskuldig word van die moord op kletsrymer, Kiernan ‘AKA’ Forbes, en die bekende sjef, Tebello ‘Tibz’ Motsoane, is weer borgtog geweier in die Durbanse Landdroshof. Aansoekers Mziwethemba Gwabeni en Lindokuhle Ndimande het op grond van nuwe feite weer om borgtog aansoek gedoen. Landdros Vincent Hlatshwayo het egter beslis geen van die nuwe feite is dwingend om die aanvanklike weiering te heroorweeg nie. Die saak hervat op 7 Februarie:
# SA Toerisme het 53 aansoeke vir internasionale geleenthede vir 2024/25 gekry, wat na verwagting 616-miljoen-rand sal verdien en tot 2029 meer as 24-duisend afgevaardigdes sal lok. Uitvoerende hoof, Nombulelo Guliwe, beklemtoon die stewige herstel van die sektor met 7,2-miljoen besoekers tussen Januarie en Oktober 2024, ‘n toename van 5,7-persent teenoor 2023. Guliwe sê SA Toerisme gaan voort met bestuurshervormings, vervul sleutelrolle in leierskap en bevorder Suid-Afrika se unieke kulturele en natuurlike besienswaardighede. Sy het ook hulle mandaat bevestig om ekonomiese groei en werkskepping te ondersteun terwyl wêreldvertroue bevorder word.
# Geboortes in Frankryk het verlede jaar tot op hul laagste jaarlikse getal gedaal sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in 1945. Die nasionale buro van statistieke sê in 2024 is 663-duisend babas in Frankryk gebore, ‘n 2,2-persent daling sedert die vorige jaar. Die algehele vrugbaarheidsyfer staan op 1,59 kinders per vrou in Frankryk, die laagste vlak in langer as ‘n eeu. Altesaam 646-duisend mense het verlede jaar in Frankryk gesterf, ‘n toename van 1,1-persent vanaf die vorige jaar, as gevolg van die baby boomer-generasie wat oud word.
# Tennis: Die driemalige naaswenner by ‘n Grand Slam-toernooi, Casper Ruud, is in die tweede ronde by die Australiese Ope uitgeknikker deur die belowende opkomende Tsjeggiese tiener, Jakob Mensik. Die Noorweër het geen antwoord gehad vir die krag en intensiteit van die 19-jarige nie, wat hom met 6-2, 3-6, 6-1 en 6-4 uitoorlê het. Ruud is nog ʼn slagoffer van tennis se opkomende jeugbrigade wat die gevestigde orde na die kroon steek. NextGen-wenner, die 18-jarige Joao Fonseca, het gister die negende gekeurde, Andrey Rublev, uitgeskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-35-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-685-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….