Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Forum 4 Service Delivery gaan die plaaslike regeringsverkiesing onder die ActionSA-vaandel betwis
# Elon Musk se SpaceX maak gereed vir Starship se sewende wentelbaan-toetsvlug vanaand
# En, rugby: Die voormalige Wallabies-kaptein Michael Hooper keer terug na sy uittrede
# ActionSA en die Forum 4 Service Delivery het saamgesmelt om ‘n verenigde front te vorm vir die plaaslike regeringsverkiesing in 2026. Albei partye is van mening eenheid en gedeelde leierskap is noodsaaklik om die land se vraagstukke, insluitend korrupsie, ondoeltreffende regering en verkiesingshervormings, aan te pak. Die nasionale voorsitter van ActionSA, Michael Beaumont, het aan die media gesê die samesmelting skep ‘n sterker opposisie vir die regering van nasionale eenheid:
# Die Gautengse Onderwysdepartement het ongeveer 40-duisend volledige laat registrasies vir graad 1 en 8 voor die sperdatum van 31 Januarie ontvang. Die LUR vir onderwys, Matome Chiloane, raai ouers aan om met die korrekte dokumentasie by beskikbare skole aansoek te doen. Die LUR het ook planne bevestig om oorbevolking in hoëdrukgebiede met 625 mobiele eenhede te verlig. Hy gee die versekering alle leerders sal geplaas word:
# Mosambiek het sy vyfde president ná die inhuldiging van Daniel Chapo, te midde van onrus oor betwiste verkiesingsuitslae. President Cyril Ramaphosa, en die president van Guinea-Bissau, Umaro Sissoco Embaló, was die enigste staatshoofde teenwoordig. Die opposisieleier, Venancio Mondlane het vir massabetogings gevra en beweer daar is verkiesingsbedrog gepleeg. Chapo sal na verwagting hierdie week sy nuwe regering aankondig. Hy het bestendigheid belowe.
# Elon Musk se SpaceX, maak gereed vir Starship se sewende wentelbaan-toetsvlug. Die maatskappy hoop die massiewe prototipe vuurpyl, Starship, sal mense help om op Mars te vestig. ‘n Lanseringsvenster by Starbase in Boca Chica, Texas, maak vanaand oop. Ruimte-entoesiaste hoop om te sien hoe SpaceX die eerste-fase Super Heavy-versterker ongeveer sewe minute ná lansering in die toring se metaalarms, vang wanneer dit terugval aarde toe. Dit het in Oktober suksesvol plaasgevind, maar nie met die daaropvolgende vlug in November nie.
# Rugby: Die voormalige Wallabies-kaptein, Michael Hooper, is terug na sy uittrede om vir Toyota Verblitz in Japan te speel, na ‘n oproep deur die voormalige afrigter van die All Blacks, Steve Hansen. Die 33-jarige het die laaste van sy 125 toetse in 2023 gespeel voor die destydse afrigter, Eddie Jones, hom sonder seremonie weggelaat het. Hy het sy hand gewaag aan Rugby Sewes maar het in Junie besluit om uit te tree nadat hy nie vir die Olimpiese Spele in Parys gekies is nie. Hooper het die Wallabies ʼn rekord aantal 69 keer aangevoer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-565-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-685-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….