Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Time Out het bekendgemaak Kaapstad is boaan die jaarlikse lys van die beste stede ter wêreld. Time Out is ‘n wêreldwye handelsmerk wat deur middel van Time Out Media en Time Out Market mense inspireer en bemagtig om die beste van ‘n stad te ervaar. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê Kaapstad is in elke opsig hoog aangeslaan vir sy skoonheid, algemene gemoedelikheid en kos-verskeidenheid. Kaapstad het een plek beter gevaar sedert hy verlede jaar in die tweede plek was:
# Die Universiteit Stellenbosch het die legendariese fisikus en wiskundeonderwyser, Walter Hazell Parry, vereer deur een van twee nuwe koshuise op die Noord-kampus na hom te vernoem nadat die universiteit se rektoraat toestemming gegee het. Parry het aansienlike bydraes tot fisika-onderrig gelewer, en gehelp met die vroeë ontwikkeling van die instelling se Fisika-departement. Hy is in 1966 dood. Die ander nuwe koshuis word die Khayalethu Residence genoem wat “ons tuiste” beteken. Die universiteit sê die naam beklemtoon sy toewyding aan insluiting.
# Kunswerke van meer as honderd kunstenaars van die omgewing van Houtbaai sal op 30 Januarie tydens die Houtbaai en Llanddudno-kunstefees in die Ghuba-gallery beskikbaar wees. Dit sluit in kunstenaars soos Grace Cross, Imraan Christian, en Schalk van der Merwe. Werke sal wissel van skilderye tot keramiek. Vanjaar se fees word ten bate van die organsiasie Lalela gehou wat opvoedkundige kuns aan die jeug in behoeftige gemeenskappe verskaf om kreatiewe denke en entrepreneurskap aan te moedig.
# Suid-Afrika se veelbekroonde komedie-buikspreker, Conrad Koch, en sy vlymskerp marionet, Chester Missing, is Februarie in die Kaap. Despicable Hehe is van die 10de tot die 15de van volgende maand by Theatre on the Bay in Kampsbaai. Koch beskryf die vertoning as ‘n mengsel van lighartige sosiale kommentaar en gesinsvriendelike humor wat geskik is vir almal van 12 jaar en ouer. Hy sê Suid-Afrikaners hou van lag en dis presies wat die vertoning laat gebeur.
# En laastens: Die voormalige Mej Suid-Afrika en Mej Heelal, Demi-Leigh Tebow, en haar man, die gewese NFL-agterspeler Tim Tebow, verwag hul eerste baba. Die twee is in Januarie 2020 in Franschhoek in die Wes-Kaap getroud. Demi-Leigh is in 2017 as Mej Suid-Afrika gekroon en het daardie selfde jaar ook die Mej Heelal- en Mej Wêreld-titel verower. Die paartjie het aan People Magazine gesê hulle is gereed om dit wat hulle die afgelope vyf jaar in hul huwelik geleer het, op ouerskap toe te pas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….