Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met tennis: Die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, is deur na die derde ronde van die Australiese Ope nadat hy met die 21-jarige kwalifiseerder, Jaime Faria, afgereken het. Die Serwiër se 430 maak hom die speler wat meeste Grand Slam-enkelspelwedstryde in die Ope Era gespeel het. Dit volg nadat hy die Portugees met 6-1, 6-7, 6-3 en 6-2 verslaan het om sy 379ste major-sege te behaal. Die Spanjaard, Carlos Alcaraz, het Yoshihito Nishioka van Japan met 6-0, 6-1, 6-4 afgeransel. Djokovic sê dis spesiaal om hierdie mylpale te bereik:
Die tweemalige verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, is intussen deur na die derde ronde van die Australiese Ope nadat sy die Spanjaard, Jessica Bouzas Maneiro, met 6-3, 7-5 geklop het. Sabalenka was in die tweede stel 5-2 agter, maar het daarna ingehaal. Die Duitse veteraan, Laura Siegemund, het die grootste skok in Melbourne veroorsaak toe sy die Olimpiese enkelspel-gouemedaljewenner, Qinwen Zheng van China, met 7-6, 6-3 verslaan het. Nog ‘n tweemalige wenner, Naomi Osaka van Japan, was ʼn stel agter, maar het die Tsjeg, Karolina Muchova, uiteindelik met 1-6, 6-1, 6-3 geklop.
# Vervolgens, krieket: Pretoria Capitals het hul eerste sege in die SA20-veldtog behaal toe hulle die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, met ses paaltjies en ʼn bonuspunt verslaan het. Daryn Dupavillion het twee paaltjies platgetrek en Sunrisers was op 113 almal uit. In antwoord daarop het ʼn onoorwonne vennootskap van 55 lopies tussen Liam Livingstone en Marques Ackerman die Capitals se oorwinning verseker. In Durban is die Joburg Super Kings steeds onoorwonne na hul 28-lopie-sege oor Durban se Super Giants. JSK se kaptein, Faf du Plessis, sê dit was ʼn moeilike paaltjie om punte aan te teken:
# Sokkernuus: Liverpool het sy onoorwonne wenlopie in die Premierliga tot 16 wedstryde uitgebrei ná ʼn gelykopwedstryd van een elk teen Nottingham Forest. Diogo Jota se doel vir Liverpool het sake gelykop gemaak ná Chris Wood se doelskop vroeg in die wedstryd, met Arne Slot se span wat sy voorsprong van ses punte behou. Die heersende kampioene, Manchester City, het sy twee-nul-voorsprong verbeur en met twee-elk gelykop geëindig teen Brentford. City is nou 12 punte agter Liverpool. City se bestuurder, Pep Guardiola, sê hulle het op kritieke oomblikke verkeerde besluite geneem:
# Ons sluit af met gholf: Die tweemalige major-kampioen, Jon Rahm, sê die gebrek aan wêreldranglys-punte vir LIV-spelers is onregverdig. Die wêreldranglys-stelsel het LIV se aansoek in 2023 verwerp nadat die liga nie aan twee belangrike kriteria voldoen het nie. Die besluit het gekeer dat LIV vir groot kampioenskappe in aanmerking kom, waar plekke op grond van wêreldranglys-punte gewaarborg word. Rahm sê dis verkeerd om nie in hierdie stadium aan LIV hierdie punte en die geloofwaardigheid wat dit verdien, te gee nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….