Nuus 11:00
BULLETIN 15 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê die MK-party is verantwoordelik vir die EFF se agteruitgang
# RISE Mzansi vra vir die beste gehalte van onderrig en onderwys in skole
# En Amerika verbied Chinese tegnologie in motorvoertuie
# Die EFF-leier Julius Malema sê die stigting van oudpresident Jacob Zuma se MK-party moet die skuld kry vir die EFF se swak vertoning in verlede jaar se algemene verkiesing. Die party se nasionale steun het afgeneem van 10,5-persent in 2019 tot 9,5-persent in die Mei-verkiesing. Die MK-party het die EFF boonop verbygesteek as die land se derde grootste party. Malema het aan eNCA gesê EFF-ondersteuners is mislei, veral in KwaZulu-Natal:
# RISE Mzansi vra rolspelers in die onderwys om toestande te prioriseer wat tot die beste gehalte onderrig en onderwys sal lei en wat die beste moontlike onderwysuitkomste sal skep. Dit volg te midde van die afskop van 2025 se akademiese jaar vandag. RISE Mzansi se Gugu Ndima sê die regering moet omsien na die veiligheid van leerders en onderwysers by skole, die nodige infrastruktuur by alle skole voorsien, en in die onderrig van wiskunde en wetenskap belê:
# Action Society vra openbare toegang tot die lys van seksuele oortreders, na aanleiding van kommer oor die paroolstelsel se versuim om gemeenskappe te beskerm. Dit volg nadat Sphiwe Isaac Makula tot 25 jaar tronkstraf gevonnis is vir die verkragting van ‘n 19-jarige vrou van Duduza in Ekurhuleni. Action Society se woordvoerder, Juanita du Preez, voer aan die paroolstelsel, wat herhalende oortreders soos Makula toegelaat het om weer te oortree, dringende hervorm moet word om vroue en kinders te beskerm:
# Amerika het ‘n regulasie afgekondig wat Chinese tegnologie effektief in motors in die Amerikaanse mark verbied, en dis gemik teen sagteware en hardeware van die wêreld se tweede grootste ekonomie op nasionale veiligheidsrisiko’s. Die aankondiging kom terwyl die uittredende president, Joe Biden, na ‘n maande lange reguleringsproses beperkings op Chinees-vervaardigde tegnologie verskerp. Die regulasie volg ook op ‘n aankondiging vandeesmaand dat Washington nuwe regulasies oorweeg om risiko’s met hommeltuie aan te spreek met tegnologie van teëstanders soos China en Rusland.
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, is deur na die derde ronde van die Australiese Ope nadat sy die Spanjaard, Jessica Bouzas Maneiro, met 6-3, 7-5 geklop het. Sabalenka was in die tweede stel 5-2 agter, maar het daarna ingehaal. Die Duitse veteraan, Laura Siegemund, het die grootste skok in Melbourne veroorsaak toe sy die Olimpiese enkelspel-gouemedaljewenner, Qinwen Zheng van China, met 7-6, 6-3 verslaan het. Nog ʼn tweemalige wenner, Naomi Osaka van Japan, was ʼn stel agter, maar het die Tsjeg, Karolina Muchova, uiteindelik met 1-6, 6-1, 6-3 geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-118-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-680-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….