Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika voer eerste wit mielies in sedert 2017 te midde van tekorte
# Rugby: Cobus Reinach speel volgende seisoen vir die Stormers
# ‘n Baba-gorilla herstel nadat hy van ‘n Turkish Airlines-vliegtuig gered is
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Handel in Graan en Oliesaad sê Suid-Afrika het vir die eerste keer sedert 2017 wit mielies ingevoer weens swak oeste. Die eerste besending, wat van die Verenigde State kom, is in Durban in KwaZulu-Natal afgelaai en daar word volgende maand meer verwag. Mieliepryse het gestyg tot ses-duisend-670-rand per ton, deels as gevolg van die groot aanvraag uit lande soos Zimbabwe. André van der Vyver van die vereniging doen ‘n beroep op die regering om verbruikers te help wat worstel met stygende kospryse.
# Build One South Africa beskuldig die DA van skynheiligheid oor die 2024-matriekuitslae en noem die 87,3-persent slaagsyfer bedrieglik. BOSA voer aan die DA, wat tans deel van die regering is, verdedig die lae onderwysstandaarde wat hy eens heftig teengestaan het. BOSA se waarnemende woordvoerder, Roger Solomons, doen ‘n beroep op die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, om die minimum slaagsyfer tot 50-persent te verhoog, aangesien die huidige 30-persent-drempel in sommige vakke die onderwysgehalte ondermyn. Solomons stel ‘n onderwysombud, hoër salarisse vir onderwysers en fokus op vroeë kinderontwikkeling voor:
# Die Hoërskool Joe Slovo in Khayelitsha vier ‘n geskiedkundige matriekslaagsyfer van 99,3-persent, vergeleke met 87,2-persent in 2023. Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê die skool het sy hoërgraadse slaagsyfer tot 56,2-persent verdubbel, met uitstekende prestasies in Wiskunde en Fisiese Wetenskap. Maynier sê die provinsie gaan voort met die behaling van opvoedkundige sukses. Hy het ook bevestig berading sal beskikbaar wees vir matrieks wat dit nodig het:
# Rugby: Die dubbele Wêreldbeker-wenner, Springbok-skrumskakel Cobus Reinach, word ‘n Stormer. Die ervare Reinach, met 39 toetse vir die Springbokke agter sy naam, keer aan die einde van die seisoen na Suid-Afrika terug nadat hy die afgelope sewe jaar in Engeland en Frankryk gespeel het. Hy is bekend vir sy vaart van die merk af en suiwer aangeë, maar het ook baie ervaring van Europese speeltoestande. Direkteur van rugby, John Dobson, sê Reinach se profiel is pasgemaak vir die soort spel waarvoor die Stormers bekend is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-8-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-98-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Vyf-maande-oue gorilla wat uit ‘n vliegtuig se vragruim gered is, herstel by die Polonezkoy-dieretuin in Istanbul, nadat hy verlede maand in ‘n boks op ‘n Turkish Airlines-vlug van Nigerië na Thailand ontdek is. ‘n Veearts by die dieretuin, sê die diertjie, wat Zeytin heet, het in die weke sedert hy gevind is begin gewig optel. Hy toon ook tekens van herstel ná sy traumatiese reis en is gelukkig om alleen te speel. Beide westelike en oostelike gorillas word deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring as bedreig geklassifiseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….