Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party wens matrikulante geluk en veroordeel tersiêre onderwysmislukkings
# Kleinhandelreuse aangesê om regverdig te wees met die pryse van vars produkte
# En, rugby: Wallis-afrigter, Warren Gatland, weet sy pos is in die gedrang
# Die MK-party wens die Matriekklas van 2024 geluk met hul deursettingsvermoë ten spyte van uitdagings, veral in landelike gebiede. Die party veroordeel egter sistemiese mislukkings in onderwys, veral ontoereikende tersiêre ruimtes, wat meer as 600-duisend leerders sonder bykomende onderwysgeleenthede laat. Hulle eis uitslae moet vroeër bekend gemaak, asook omvattende toegang tot tersiêre geleenthede en hervormings om omstandighede vir onderrig te verbeter. Die party vra ook vir aanspreeklikheid en billike hervormings om armoede en ongelykheid in onderwys aan te spreek.
# Die Mededingingskommissie het groot kleinhandelaars, insluitend Shoprite, Woolworths, Pick n Pay, Spar en Food Lover’s Market, aangesê om die prys van vars produkte per 100 gram aan te dui. Hierdie verandering sal verbruikers in staat stel om makliker pryse te vergelyk. Hierdie besluit volg op ‘n ondersoek na die varsproduktemark, wat bevind het bestaande praktyke om pryse te bepaal verdraai mededinging. Die ondersoek het ook ondoeltreffendheid in die mark vir vars produkte ontbloot, insluitend monopolieë en struikelblokke vir kleinboere. Kleinhandelaars moet die veranderinge binne 12 maande aanbring.
# Die LUR vir Onderwys in Limpopo, Mavhungu Lerule-Ramakhanya, doen ‘n beroep op graad 12-leerders wat matriek gedruip het en nog skoolgaande ouderdom is, om as voltydse kandidate terug te keer klas toe en die jaar te herhaal. Die provinsie het ‘n 85,01-persent slaagsyfer behaal, vergeleke met 79,5-persent in 2023. Lerule-Ramakhanya sê leerders kan ook as deeltydse leerders registreer om van hul vakke in 2025 te herskryf:
# Vrywillige reddingswerkers in Soedan sê meer as 120 mense is dood in die bombardering van ‘n gedeelte van Omdoerman, die tweelingstad van die hoofstad, Khartoem, net oorkant die Nylrivier. Volgens reddingswerkers is daar ‘n kritieke tekort aan mediese voorrade, aangesien gesondheidswerkers haas nie kon byhou nie om ‘n groot aantal gewondes, wat verskillende grade beserings opgedoen het, te behandel. Gevegte tussen die weermag en die paramilitêre Rapid Support Forces het die afgelope weke toegeneem na meer as 20 maande se oorlog in Soedan.
# Rugby: Wallis se afrigter, Warren Gatland, is onder druk en sê hy aanvaar ‘n verandering is moontlik indien die span nie gedurende die Sesnasies ‘n verbetering toon nie. Wallis kon nog nie weer ‘n toets wen sedert hulle Georgië tydens die Wêreldbeker in 2023 geklop het nie. Die span is versterk met die terugkeer van Taulupe Faletau, Liam Williams en Josh Adams en hulle eerste wedstryd is op 31 Januarie teen Frankryk in Parys. Volgens Gatland is die vraag of hulle bo kan uitkom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-492-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….