Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Rayyan Ebrahim van Pinelands High School in Kaapstad is die toppresteerder van Suid-Afrika se 2024-matriekklas. Die land se toppresteerder in sewe van die afgelope agt Nasionale Senior Sertifikaat-eksamens het van dié provinsie gekom. Die Wes-Kaap se slaagsyfer is 86,6-persent. Ebrahim sê dit het harde werk en toewyding geverg om dié prestasie te behaal:
# ‘n Projek om straatsmouse te ondersteun is in Kaapstad bekendgestel. Die Nuwe Begin-projek wil pasgemaakte, opvoubare stalletjies van herwinde materiaal verskaf. Die stigter, Jeffrey Doveton, sê die veldtog is geïnspireer deur ʼn afgedankte veiligheidswag wat boerewors-rolle onder swak omstandighede verkoop het. Die organisasie het duursame stalletjies laat bou om verkopers praktiese, waardige werksruimtes te bied. Die Nuwe Begin-projek samel nou geld in vir gereedskap, materiaal en ondersteuning om na ander gebiede uit te brei.
# ‘n Student aan die Universiteit van die Witwatersrand, die 23-jarige Kamogelo Mabe, het onlangs die gesogte Abe Bailey-reisbeurs ontvang. Die beurs word aan ‘n uitstaande Suid-Afrikaanse student of professionele jong persoon toegeken wat uitsonderlike leierseienskappe, akademiese uitnemendheid en ‘n verbondenheid tot die land se toekoms toon. Die beurs bied aan die ontvanger die geleentheid om aan ‘n opleidings- en kultuurtoer in Brittanje deel te neem. Mabe is besig met sy honneursgraad in Kritiese Diversiteitstudies.
# Die DA het Cape Town Pride gelukgewens met die World Pride-geleentheid wat in 2028 in Kaapstad sal plaasvind. Die DA-lid, Nicholas Gotsell, sê World Pride het begin in 2000 in Rome en word beskryf as ‘n geleentheid wat ten doel het om globale bewusmaking en sigbaarheid rondom LGBTQIA+ kwessies uit te lig. Hy sê dit behels ‘n menseregtekonferensie en verskeie buiteluggeleenthede om gelykheid en menseregte te vier:
# Talle van die sanger Bob Dylan se gedenkskrifte gaan Saterdag in die gedenksaal en -museum vir musikante in Nashville opgeveil word. Die veiling, Celebrating Bob Dylan: The Al Aronowitz Archive, T Bone Burnett, and More, sluit vroeëre konsepte in van die sanger en liedjieskrywer se nommereen-treffer, Mr Tambourine Man. Dit sluit ook verskeie oorspronklike kunswerke in, waaronder ‘n ondertekende olieverfskildery uit 1968 en ‘n analoog-skyf van die sanger se 2022-heropname van The Times They Are A-Changing. Dylan het meer as 125-miljoen opnames tydens sy loopbaan verkoop.
# En laastens: Die Suid-Afrikaanse paspoort het vyf plekke geklim op die 2025 Henley Paspoort-indeks en vir die eerste keer sedert 2014 teruggekeer na die top 50. Dit weerspieël ‘n verbetering in mobiliteit ten spyte van visumvrye toegang tot Ierland wat verloor is en die algehele toeganklike bestemmings verminder het. Die Henley-paspoortindeks, gebaseer op 19 jaar van Internasionale Lugvervoerowerheid-data, evalueer maandeliks 199 paspoorte en 227 bestemmings. Lande van die Europese Unie het terugslae ondervind, maar Singapoer en Japan is boaan die indeks met visumvrye toegang tot onderskeidelik 195 en 193 lande.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….