Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra vir waagmoedige hervormings om sistemiese wanfunksionering in die onderwysstelsel te pak
# Duisende leerders is steeds nie geplaas nie met skole wat môre heropen
# En, krieket: Die Proteas se witbal-afrigter het volle vertroue in die Kampioenetrofee-groep
# ActionSA sê ondanks ‘n verbetering van 6,9-persentasiepunte in die uitslae van die Nasionale Senior Sertifikaat vir 2024, is waagmoedige hervormings nodig om sistemiese wanfunksionering in Suid-Afrika se onderwysstelsel aan te pak. Hulle wens die Klas van 2024 geluk met die rekordslaagsyfer, maar woordvoerder Mathew George sê voortgesette uitdagings bly, soos swak infrastruktuur, maatskaplik-ekonomiese agterstand en ongelyke onderwysuitkomste. Hy eis dat stappe gedoen word om te verseker toekomstige matrikulante ontvang gehalte onderwys in ‘n bevorderlike omgewing:
Die Departement van Basiese Onderwys het ondertussen bevestig meer as sewe-duisend leerders in Mpumalanga is steeds nie geplaas nie, en een-duisend leerders in Noordwes staar soortgelyke uitdagings in die gesig weens ‘n tekort aan Hoërskole. Die departement se woordvoerder, Elijah Mhlanga, noem oorbevolking, bevolkingsgroei en onvoldoende infrastruktuur as sleutelkwessies. Mhlanga waarsku teen ‘n verergerende krisis in Gauteng en die Wes-Kaap, met mobiele klaskamers wat waarskynlik korttermynoplossings sal wees. Die woordvoerder vir die Departement van Onderwys in Noordwes, Mphata Molokwane, het intussen die planne vir nuwe skole en hergebruikte geboue uitgelig.
# Die Wes-Kaapse Meesterbouersvereniging wil afpersing deur sindikate in die boubedryf takel. Hierdie sindikate se aktiwiteite het volgens berigte veroorsaak dat tot ses projekte van meer as 400-miljoen-rand verlede jaar in die provinsie gestaak is, terwyl die polisie 22 sake ondersoek. Die vereniging moedig kontrakteurs aan om voorkomende maatreëls te tref, soos gemeenskapsbetrokkenheid, sigbare polisiëring en die bewaking van terreine. Hy sê kontrakteurs moet ook met bedryfsliggame en die regering saamwerk om misdaad te bekamp en wettige bou-aktiwiteite te beskerm.
# Die Amerikaanse spesiale aanklaer, Jack Smith, sê hulle het voldoende bewyse gehad om die aangewese president, Donald Trump, skuldig te bevind indien hy nie in 2024 herkies is nie. Prokureur-generaal Merrick Garland het Smith se verslag oor sy ondersoek na Trump en sy pogings om die 2020-verkiesingsuitslae omver te werp, vrygestel. Die verslag van 130 bladsye, wat aan die Kongres voorgelê is, beskryf die aangewese president se misdadige pogings om mag te behou. In reaksie op die verslag sê Trump Smith is van sy verstand af en sy bevindings is vals.
# Krieket: Die witbal-afrigter van die Proteas, Rob Walter, is oortuig die groep wat hy vir aanstaande maand se Kampioenetrofee-toernooi aangewys het, besit die potensiaal om die titel te wen. Die groep van 15 lede sluit die snelboulers, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi in, wat die hele internasionale seisoen tuis weens beserings misgeloop het. Kolwers Tony de Zorzi, Ryan Rickelton en Tristan Stubbs, asook die veelsydige Wiaan Mulder, speel die eerste keer in ‘n senior IKR-toernooi oor 50 boulbeurte. Volgens Walter het die groep baie ervaring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-834-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….