Nuus 09:00
BULLETIN 14 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party vra vir meer aandag aan basiese onderwys
# Minister Tau verwelkom die verslag oor die Varsproduktemarkondersoek
# En brandbestryders maak gereed vir gevaarliker weersomstandighede in Los Angeles
# Die GOOD-party sê die goeie 2024-matriekslaagsyfer van 87,3-persent is bemoedigend. Dis die land se hoogste nasionale slaagsyfer sedert die begin van 1994 se demokrasie. Die Vrystaat met 91-persent het die beste gedoen, gevolg deur KwaZulu-Natal en Gauteng. Uit die 75 onderwysdistrikte het 73 ‘n slaagsyfer van 80-persent en hoër behaal. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die regering moet groter voorkeur gee aan basiese onderwys:
# Die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, het die Mededingingskommissie se finale verslag oor sy ondersoek na die Varsproduktemark verwelkom. Die verslag, waarvan die tussentydse bevindings in Junie bekendgemaak is, sluit in dat inkonsekwente munisipale regulasies mededinging in die mark kniehalter. Die omset van die plaaslike mark vir varsprodukte beloop jaarliks nagenoeg 53-miljard-rand. Die ministerie se woordvoerder, Yamkela Fanisi, sê die 31 aanbevelings vir regstelling bied ‘n plan om die uitdagings van die Varsproduktemark die hoof te bied:
# Die Oos-Kaapse regterpresident, Selby Mbenenge, se verdediging sê hulle wil oud-regterpresident Raymond Zondo dagvaar om te help om Mbenenge vry te spreek van die aanklagte van seksuele teistering teen hom. Die senior regter het na bewering tussen 2021 en 2022 seksuele toenadering gesoek by Andiswa Mengo, ʼn gewese sekretaris in die afdeling van die Hooggeregshof. ʼn Geregtelike gedragstribunaal het met sy ondersoek na Mengo se bewerings begin. Zondo het in Mei 2023 Mengo se klag geklassifiseer as een wat, indien dit bewys word, op growwe regskending sal neerkom.
# Amptenare in Los Angeles sê die stad is besig met dringende voorbereidings ná die Amerikaanse weerdiens se waarskuwings oor winde na aan orkaansterkte vir die gebied. Drie wegholbrande woed steeds in die stad, waarvan net 14-persent van die grootste – die Palisades-brand – sover in bedwang is. Bykans 24 mense is reeds in die brande dood en 23 word vermis. Die stad se brandweerhoof, Anthony Marrone, sê hulle is beter voorbereid vir die weersverskynsel:
# Sokker: Arne Slot sê Nottingham Forest is op die kruin van die golf en “verdien” om soos aanspraakmakers vir die Premierligatitel behandel te word terwyl hy Liverpool voorberei vir ‘n moeilike reis na die City Ground vanaand. Forest is derde en het Liverpool hierdie seisoen sy enigste nederlaag in die liga toegedien. Hulle kan tot net drie punte agter die voorlopers in die liga opskuif indien hulle ʼn sewende agtereenvolgende oorwinning in die middel van die week behaal. Forest het verlede seisoen relegasie net-net vrygespring en hulle opmars tot die bopunt van die puntetabel is ʼn groot verrassing. Volgens Slot is hulle waardige teenstanders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-960-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-672-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….