Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Speurders ondersoek ‘n massaskietery in Gqeberha
# Umalusi bevestig die integriteit van die 2024-matriekuitslae na ‘n standaardiserings-proses
# En, motorsport: Byna ‘n 1,2,3 vir Suid-Afrika in die 8ste skof van die Dakar-tydren
# Oos-Kaapse provinsiale speurders ondersoek ses aanklagte van moord en poging tot moord na ‘n noodlottige skietery in Kanistraat in Veeplaas, Gqeberha. Die polisie het gisteraand die liggame van ses mans tussen die ouderdomme van 21 en 27 jaar en ‘n beseerde 21-jarige vrou gevind. Polisiewoordvoerder Siphokazi Mawisa sê die slagoffers is deur onbekende verdagtes aangeval maar die motief is onseker en niemand is tot dusver aangekeer nie:
# Die 2024 nasionale senior sertifikaat en onafhanklike eksamenraad-uitslae is amptelik deur Umalusi goedgekeur. Meer as een-miljoen kandidate het aan die nasionale eksamen deelgeneem. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, maak vanaand die matriekuitslae bekend. Umalusi se voorsitter, Yunus Ballim, het bevestig die uitslae voldoen aan die vereiste standaarde vir geloofwaardigheid en integriteit:
# Giwusa se president, Mametlwe Sebei meen die reddingsoperasie van die vasgekeerde onwettige mynwerkers in Stilfontein kan twee tot drie weke duur. Sebei het aan die groep, Mining Affected Communities United in Action, bevestig daar is bykomende voedsel- en watervoorrade verskaf om die vasgekeerde mynwerkers tydens die operasie te help:
# Duitsland doen stappe om die moontlike verspreiding van bek-en-klouseer te beperk, terwyl die uitbreking van die virus die land se landbou-uitvoere bedreig. Suid-Korea en Mexiko het aan Berlyn gesê hulle staak die invoer van varkvleis uit Duitsland totdat die gevalle onder beheer is. Drie gevalle van bek-en-klouseer is Vrydag by waterbuffels op ‘n plaas naby Berlyn aangemeld, die eerste bevestigde voorkoms van die virus in Duitsland sedert 1988.
# Motorsport: Henk Lategan van Suid-Afrika in sy Toyota is steeds voor onder die bestuurders van die Dakar-tydren nadat hy vandag die agste trajek ingepalm het. Dis die 30-jarige se vierde Dakar. Hy het sy voorsprong oor die plaaslike hoop, Yazeed al-Rajhi, tot 5-minute-41-sekondes in die algemene klassifisering vergroot. Ten spyte van ‘n boete van twee-minute vir spoed tydens die trajek, was Lategan voor landgenoot Guy Botterill, ook in ʼn Toyota. Frankryk se Mathieu Serradori in sy Century het verhinder dat net Suid-Afrikaners op die podium klim deur derde te eindig, vyf sekondes voor Brian Baragwanath.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-528-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….