Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Navorsers gebruik toenemend kunsmatige intelligensie vir die beskerming van bedreigde spesies. K-I kan vir die ontleding van baie data ingespan word om gedragspatrone te identifiseer sodat vroeë ingrypings kan plaasvind om ontwrigting in die ekologie te verhoed. Dié tegnologiese benadering kan bewaringspogings verskerp deur insigte te bied in omgewingsveranderings en die gedragspatrone van spesies. Ortwin Aschenborn van die Leibniz-inistituut vir Dieretuin- en Wildlewe-navorsing, sê die integrasie van K-I in bewaring is ‘n beduidende vordering in die bewaring van die biodiversiteit:
# Die Alliance to End Plastic Waste ondersoek koste-doeltreffende geleenthede om plastiek meganies te herwin. Die alliansie het sy derde Solution Model-aktiwiteitsboek met die titel Capturing Value Through Basic Mechanical Recycling of Mixed Plastic Waste bekendgestel. Die gids ondersoek praktiese herwinningsmodelle wat geskik is vir lae-inkomste- en ontwikkelde streke, en fokus op die omskakeling van gemengde plastiekafval in produkte soos meubels en boumateriaal. Die aktiwiteitsboek wil herwinning ook wêreldwyd toeganklik en ekonomies lewensvatbaar maak.
# En laastens: Wetenskaplikes het onmiskenbare bewyse gevind van ‘n verband tussen klimaatsverandering en die vernietigende veldbrande by Los Angeles. Minstens 24 mense is reeds in die brande dood. ‘n Professor aan die Universiteit Stellenbosch, Guy Midgley, het aan Daily Maverick gesê die wegholbrande is vererger deur ‘n kombinasie van ‘n uitgerekte droogte, die sterk Santa Ana-winde en droë plantmateriaal wat die gevolg is van die warmste jaar op rekord oor die wêreld heen en laer reënval in Mediterreense gebiede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….