Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, tennis: Jannik Sinner van Italië het sy Australiese Ope-titel se verdediging suksesvol begin met ‘n taai stryd. Iga Swiatek en Coco Gauff is ook deur na die tweede ronde. Sinner is die wêreld-nommer-een, maar speel sedert Maart onder ʼn wolk nadat hy twee keer positief getoets het vir ʼn verbode steroïed. Hy ontken skuld en tennisowerhede het hom kwytgeskeld. Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport het egter geappelleer en wil hom vir twee jaar skors. Sinner is hartlik by die Rod Laver Arena verwelkom voordat hy Nicolas Jarry van Chili met 7-6, 7-6, 6-1 verslaan het.
Intussen erken Frances Tiafoe dit was so hittete of hy het tou opgegooi nadat hy op die baan opgegooi het tydens ʼn uitmergelende oorwinning in vyf stelle by die Australiese Ope. Die Amerikaner het op ʼn kritieke oomblik siek geword met die vierde stel op 5-6 teen die Fransman, Arthur Rinderknech. Hy kon verder speel en het uiteindelik na 4 uur en 8 minute met 7-6, 6-3, 4-6, 6-7 en 6-3 geseëvier. Tiafoe se wedstryd was in die middel van die dag, maar hy glo hy was geoorhidreer en blameer nie die hitte nie.
# Vervolgens, sokker: Met nog een wedstryd oor in Groep C van die CAF-kampioenskapsliga, het Orlando Pirates in Soweto na die kwarteindronde deurgedring met ‘n oorwinning van twee-een oor CR Belouizdad van Algerië. Doele deur Relebohile Mofokeng en Thalente Mbatha het vir die manne van Soweto die maksimum punte besorg. Pirates se afrigter, Jose Riveiro, sê hulle het van die beginfluitjie af gespeel om te wen:
# Ons maak ‘n draai by krieket: Pat Cummins en Josh Hazlewood is deel van Australië se groep vir die Kampioenetrofee wat op 19 Februarie in Pakistan en die Verenigde Arabiese Emirate begin. Cummins sal die span aanvoer. Die veelsydige spelers, Aaron Hardie en Matthew Short, is ook ingesluit by die groep van 15, terwyl Nathan Ellis die vierde snelbouler is. Australië is in dieselfde groep as Engeland, Suid-Afrika en Afghanistan.
# En sluit af met gholf: Die Ryderbeker-kaptein, Luke Donald, sê die Span-beker was waardevolle voorbereiding vir die verdediging van Europa se Ryder-beker by Bethpage in September. Tommy Fleetwood het die wenpunt aangeteken toe Groot-Brittanje en Ierland Sondag ʼn oortuigende 17-8-sege oor Vasteland Europa behaal het by die Abu Dhabi-gholfklub. Donald, wat Europa in 2023 in Italië tot ʼn oortuigende oorwinning gelei het om die Ryderbeker te wen, sê die Span-beker was veral vir jong spelers ʼn leerervaring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….