Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n gewese landdros en Vrystaatse rugbyspeler
# RISE Mzansi bekommerd oor 20-persent Operasie Shanela-verdagtes wat vorige oortreders is
# En, tennis: Sinner, Swiatek en Gauff deur na die Australiese Ope se tweede ronde
# Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op die gewese landdros en oud-rugbyspeler van die Vrystaat en Griekwas, Piet Bester, by Glen in die Vrystaat. ‘n Werker het Sondagoggend die 63-jarige Bester se liggaam met talle steekwonde in sy huis aangetref. ‘n Polisiewoordvoerder, Lorraine Earle, sê die verdagtes is vasgetrek danksy die flinke optrede deur die boeregemeenskap van Glen en die polisie:
# RISE Mzansi vra meer optrede om gemeenskappe te beveilig, nadat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, onthul het dat 20-persent van die verdagtes wat as deel van Operasie Shanela in hegtenis geneem is, vorige oortredings het. Volgens Mchunu is 21-duisend-104 van die meer as een-miljoen gearresteerde verdagtes vrygelaat weens onvoldoende bewyse, met 386-duisend-198 wat tans voor die hof is. Makashule Gana van RISE Mzansi het die impak en veroordelingsyfer van Operasie Shanela geprys:
# Wetenskaplikes het onmiskenbare bewyse gevind van ‘n verband tussen klimaatsverandering en die vernietigende veldbrande by Los Angeles. Minstens 24 mense is reeds in die brande dood. ‘n Professor aan die Universiteit Stellenbosch, Guy Midgley, het aan Daily Maverick gesê die wegholbrande is vererger deur ‘n kombinasie van ‘n uitgerekte droogte, die sterk Santa Ana-winde en droë plantmateriaal wat die gevolg is van die warmste jaar op rekord oor die wêreld heen en laer reënval in Mediterreense gebiede.
# Tennis: Jannik Sinner van Italië het sy Australiese Ope-titel se verdediging suksesvol begin met ‘n taai stryd. Iga Swiatek en Coco Gauff is ook deur na die tweede ronde. Sinner is die wêreld-nommer-een, maar speel sedert Maart onder ʼn wolk nadat hy twee keer positief getoets het vir ʼn verbode steroïed. Hy ontken skuld en tennisowerhede het hom kwytgeskeld. Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport het egter geappelleer en wil hom vir twee jaar skors. Sinner is hartlik by die Rod Laver Arena verwelkom voordat hy Nicolas Jarry van Chili met 7-6, 7-6, 6-1 verslaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-299-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-686-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-41-sent per vat.
# Ten slotte: Groot skares Hindoe-pelgrims het vanoggend in Indië in heilige water gewas met die aanvang van die 12-jaarlikse Kumbh Mela-fees waar die organiseerders oor die volgende ses weke 400-miljoen mense verwag. Dit is die grootste samekoms van mense. Die Kumbh Mela – ‘n millennia-oue bad-ritueel by die sameloop van die Ganges-, Yamuna- en mitiese Saraswati-riviere – is ‘n vertoon van godsiensvroomheid en ‘n enorme logistieke uitdaging. Pelgrims het kort voor sonsopkoms die ysige water binnegegaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….