Nuus 11:00
BULLETIN 13 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zondo erken daar is ‘n fout in die staatskapingsgetuienis
# Cosatu sê die regering moet meer dokters in diens neem wat hul gemeenskapsdiens voltooi het
# En tennis: Stefanos Tsitsipas en Victoria Azarenka word uitgeskakel by die Australiese Ope
# Voormalige hoofregter Raymond Zondo het erken die Staatskapingsondersoek se bewyse van die Staatsveiligheidsagentskap se vermiste nege-miljard-rand tydens Arthur Fraser se termyn, was foutief. Die ondersoek het in 2021 gehoor dat nege-miljard-rand wat die agentskap aan motors, spesiale waarnemingstoerusting en eiendomme bestee het wat vir dekking gebruik is, vermis word. Volgens News24 het Zondo in hofdokumente gesê die kommissie het, toe die getuienis gelewer is, nie toegang gehad tot dokumente wat die Ouditeur-generaal se verslag ingesluit het nie. Hy sê die regte bedrag is in sy finale verslag.
# Cosatu doen ‘n beroep op die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, om in samewerking met die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging Vakbond, SAMATU, ‘n plan op te stel vir die indiensneming van honderde gekwalifiseerde dokters. SAMATU sê hy weet van minstens 450 gekwalifiseerde dokters wat hul gemeenskapsdiensjaar voltooi het. Zanele Sabela van Cosatu sê die Nasionale Gesondheidsversekeringsplan se sukses berus op die versterking van menslike hulpbronne in staatsfasiliteite:
# Die polisie het ‘n 32-jarige verdagte vasgetrek in verband met die moord op agt mense by ‘n drankwinkel in Pienaar in Mpumalanga Saterdagoggend. Ses mense is op die toneel dood en nog twee – ‘n man en vrou – het in ‘n hospitaal aan hul wonde beswyk. ‘n Polisiewoordvoerder, Jaby Ndubane, sê die verdagte het ‘n vuurwapen en sowat 13 rondtes ammunisie hy hom gehad:
# Amerika se president Joe Biden en Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het Sondag ‘n telefoongesprek gevoer oor onderhandelings om ʼn skietstilstand in Gaza en die vrylating van gyselaars te bespreek. Biden probeer om die konflik te stop voordat gekose president Donald Trump se termyn volgende week begin. Die Withuis sê Biden beklemtoon die onmiddellike behoefte aan ʼn skietstilstand en die terugkeer van gyselaars, asook meer humanitêre hulp indien die gevegte volgens die ooreenkoms gestaak word.
# Tennis: Die 2023-finalis, Stefanos Tsitsipas van Griekeland, is in die eerste ronde van die Australiese Ope uitgeskakel. Die Amerikaner Alex Michelsen het die elfde gekeurde Griek met 7-5, 3-6, 6-2, 6-4 verslaan om sy eerste top-20-oorwinning in ʼn Major te behaal. Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, het Nicolás Jarry van Chili met 7-6, 7-6, 6-1 geklop. In die vroue-afdeling het Iga Swiatek van Pole die Tsjeg, Katerina Siniakova, met 6-3, 6-4 afgeransel. Coco Gauff het haar landgenoot, Sofia Kenin, verslaan terwyl die tweemalige kampioen, Victoria Azarenka van Belarus, met 6-2, 7-6 teen Lucia Bronzetti van Italië verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-707-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-688-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….