Nuus 08:00
BULLETIN 13 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Onderwysaktivis is bekommerd oor die verkoop van matriekuitslae voor die sperdatum
# ‘n Tribunaal vind regter Nana Makhubele skuldig aan growwe wangedrag
# En Zelenskyy bied aan om gevange Noord-Koreaanse soldate vry te laat in ruil vir Oekraïense soldate
# ‘n Onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, doen ʼn beroep op die Departement van Basiese Onderwys om sy posisie te verduidelik wat ʼn privaat maatskappy se verkoop van die 2024-matriekuituitslae betref. Edumarks beweer matrieks kan hul uitslag voor die tyd op hul webtuiste kry teen ʼn fooi van 100-rand. Dit is selfs voordat die departement die uitslag amptelik bekendmaak. Makaneta sê dit wek ernstige vrae oor die manier waarop Edumarks toegang tot sulke sensitiewe inligting gekry het, en of die uitslae wat verkoop word, oorspronklik is:
# ʼn Geregtelike gedragstribunaal het die geskorste Gautengse regter Nana Makhubele aan growwe wangedrag skuldig bevind. Daar is ook bevind haar gedrag as tussentydse raadsvoorsitter van die Passasier-spooragentskap was ewe oneties. Die tribunaal het beslis haar gedrag, insluitend haar goedkeuring van ʼn geheime skikking van 56-miljoen-rand met die Siyaya-groep van maatskappye, en dat Prasa se regspan op die kantlyn geskuif is, was oneerlik en oneties. Die tribunaal se bevindings, wat tot Makhubele se vervolging kan lei, sal nou deur die Regterlike Dienskommissie oorweeg word.
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, waarsku ongeregistreerde skoolvervoeroperateurs om bedryfslisensie-regulasies na te kom of met die volle gesag van die reg te doen te kry. Skole heropen Woensdag vir die 2025 akademiese jaar. Die departement se woordvoerder, Lesiba Mpya, sê hulle het aan alle skoolvervoeroperateurs ʼn kennisgewing gestuur dat hulle moet seker maak hulle is wettig en dat voertuie padwaardig is:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê hy is bereid om Noord-Koreaanse soldate wat Oekraïne in die Koersk-streek gevang het, vry te laat in ruil vir Oekraïnse krygsgevangenes in Moskou. Twee soldate is Saterdag in Koersk gevange geneem waar swaar gevegte voorkom sedert Oekraïne vyf maande gelede ʼn oorgrens-aanval van stapel gestuur het. Zelensky sê daar moet geen twyfel bestaan dat die Russiese weermag afhanklik is van militêre hulp uit Noord-Korea nie. Na raming is elfduisend Noord-Koreaanse soldate in Koersk ontplooi.
# Sokker: Met nog een wedstryd oor in Groep C van die CAF-kampioenskapsliga, het Orlando Pirates in Soweto na die kwarteindronde deurgedring met ‘n oorwinning van twee-een oor CR Belouizdad van Algerië. Doele deur Relebohile Mofokeng en Thalente Mbatha het vir die manne van Soweto die maksimum punte besorg. Pirates se afrigter, Jose Riveiro, sê hulle het van die beginfluitjie af gespeel om te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-146-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-687-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….