Nuus 08:00
BULLETIN 12 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon die doelwitte van regering van nasionale eenheid
# Die ATM vra geregtigheid ná ‘n dodelike skietvoorval in ‘n Mpumalanga-taverne
# En Rugby: Die Stormers wen in styl teen Sale
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die nege politieke partye as deel van die regering van nasionale eenheid, is daartoe verbind om Suid-Afrikaners se lewens en die land se ekonomiese aansien te verbeter. Ramaphosa het tydens die ANC se 8 Januarie-verklaring in Khayelitsha beklemtoon dat beslissende optrede nodig is om openbare vertroue op verskeie belangrike gebiede te herbou. Hy het die ANC se verbintenis herbevestig om ekonomiese en maatskaplike vooruitgang in die land deur middel van samewerkende regering te bereik.
# Die African Transformation Movement eis ‘n deeglike ondersoek en die vinnige arres van die oortreders wat verantwoordelik was vir die skietery in ‘n taverne in Pienaar, Mpumalanga. Agt mense is Saterdag in die vroeë oggendure doodgeskiet en vyf gewond. Die beweging se woordvoerder, Zama Ntshona, sê huidige polisiestatistiek toon ‘n kommerwekkende situasie in die provinsie, met meer as 300 moorde wat in die eerste kwartaal van die 2024/2025-boekjaar aangemeld is:
# Die EFF in Gauteng sê die omvang van mense- en dwelmhandelmisdade in Suid-Afrika is kommerwekkend. Dit volg na die arrestasie van drie individue in Sandringham, Johannesburg, vir vermeende mensehandel waarby 26 Ethiopiese mans betrokke was. Die party sê kriminele sindikate ondermyn die land se wette blatant terwyl hulle gruweldade pleeg. Die EFF sê daar is ‘n dringende behoefte aan ‘n goed georganiseerde misdaadvoorkomingstrategie, wat die versterking van misdaadintelligensie en ondersoekeenhede ten doel het.
# Brandbestrydingspanne het ‘n mate van vordering gemaak in die stryd teen dodelike veldbrande in Los Angeles, met meer as 100-duisend inwoners wat steeds onderhewig is aan ontruimingsbevele. Amptenare het minstens elf sterftes bevestig, maar sê dis nog nie moonlik om die finale dodetal te bepaal nie. Die Palisades-brand aan die kus is nagenoeg 11-persent onder beheer, maar versprei nou ooswaarts, met brandbestryders se taak wat deur verdere wind en droë toestande belemmer word. CNN het vroeër bevind die Palisades-brand is moonlik veroorsaak deur ‘n verwoestende kombinasie van faktore wat die land se hulpbronne onbeheerbaar onder druk geplaas het.
# En rugby: Die Stormers het hul eerste punte hierdie seisoen op die Kampioenebeker-punteleer aangeteken met ‘n 40-0 bonuspuntoorwinning Saterdag oor die Sale Sharks in die Kaapstad-stadion. Die Stormers se ses drieë is gedruk deur JD Schickerling, Manie Libbok, Sti Stihole, Warrick Gelant, Paul de Wet en Andre-Hugo Venter. Danksy die oorwinning kan die Stormers steeds hoop om die uitklopfase van die Kampioenebeker te haal. Hulle sal hul laaste wedstryd van die groepfases op die 18de van die maand speel wanneer hulle in Frankryk met Racing 92 kragte meet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….