Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Vandag is Eiesoortige Mensedag, wat die uniekheid en diversiteit van indiwidue vier. Eiesoortige mense is diegene wat nie aan wêreld se standaarde konformeer nie en weier om hulle aan onregverdige en verkeerde reëls te onderwerp. Hulle leef volgens hulle eie waardes en inspireer mense om teen ongeregtigheid op te staan. Mense word op die dag aangemoedig om hulle eie eienaardighede te omhels en andere se geite te vier.
# Fietsryers skryf reeds in vir die 2025 Kaapstad-fietstoer wat op 9 Maart plaasvind. Waves for Change doen ‘n beroep op deelnemers om te help om 600-duisend-rand vir branderry-terapieprogramme in te samel. Die programme wil veilige ruimtes skep en kinders wat aan trauma blootgestel is ondersteun deur genesing en veerkragtigheid te bevorder. Daar is 15 liefdadigheidsplekke beskikbaar en fietsryers van alle vlakke kan met ʼn doel deelneem. Die Kaapstad-fietsry-ekspo word van ses tot agt Maart aangebied.
# ʼn Oudstudent van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, Ezra Seroto, het sy liefde vir probleemoplossing en passie om kleinsakeondernemings te help, gebruik om die Spaza Eats-toepassing te ontwikkel. Die toepassing is ʼn mark-platform wat 500 townships verbind met plaaslike verkopers van tradisionele kos en varsprodukte, asook spazawinkels en verskaffers van elektronika. Meer as 60-duisend klante gebruik die toepassing en Spaza Eats spog met tweeduisend-500 restaurante op sy platform. Die toepassing het 800 mense in ses provinsies in sy diens.
# Die Midvaal-munisipaliteit in Gauteng sê aansoeke vir die Burgemeester se finansiële hulpprogram aan studente word nou ingewag. Die program is in Januarie verlede jaar van stapel gestuur en ondersteun diegene wat hoër onderwyskwalifikasies wil behaal. Die woordvoerder van die Midvaalse burgemeester, Idah Satikhe, sê die stadsraad het verlede jaar 750-duisend-rand aan die program toegewys met 29 studente wat vir finansiële hulp goedgekeur is:
# Die foto van die Brasiliaanse branderplankryer, Gabriel Medina, wat Jerome Brouillet by die 2024 Olimpiese Spele in Parys geneem het, het die topprys by die Wêreld se sportfotografie-toekennings gewen. Die foto wys Medina wat deur die lug sweef met sy branderplank agter hom en sy vinger wat na die hemel wys. Meer as tweeduisend-200 sportfotograwe uit 96 lande het meer as 13-duisend foto’s vir die kompetisie ingeskryf. Brouillet sê hy kon die besondere foto neem danksy die ideale weerstoestande, goeie tydsberekening en ʼn bietjie geluk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….