Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is heel eerste: Die Springbok-sewes se afrigter, Philip Snyman, sê hulle is bewus van die reusetaak wat voorlê in die Wêreld-sewesreeks se Perth-toernooi. Die Blitsbokke is in dieselfde groep ingedeel as die verdedigende kampioene van Argentinië, die gashere Australië en Amerika vir die toernooi wat van die 24ste tot die 26ste duur. Die span is verlede week terug in Stellenbosch. Snyman sê hy gaan steeds nuwe spelers byvoeg ter voorbereiding vir die volgende Olimpiese Spele:
# Nou motorsport: Henk Lategan en Brett Cummings van Suid-Afrika het hul algehele voorsprong tot tien minute in die Dakar-tydren oor Mattias Ekström van Swede en Yazeed Al-Rajhi van Saoedi-Arabië vergroot. Nasser Al-Attiyah en Fransman Edouard Boulanger het egter die skof van 428-kilometer oorheers en hulle algehele agterstand teenoor Lategan tot 25 minute verminder. Suid-Afrikaanse spanne, insluitend Saood Variawa, het gemengde welslae behaal. Deelnemers het vandag ‘n rusdag in Ha’il, Saoedi-Arabië, en berei voor vir Saterdag se skof van 605 kilometer.
# Vervolgens, tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Andy Murray, sê hy kon nie die unieke geleentheid laat verbygaan om sy jare lange teenstander, Novak Djokovic, af te rig nie. Hulle het in November aangekondig hulle gaan saamwerk; met die ooreenkoms wat slegs geldig is tot ná die Australiese Ope wat Djokovic vir ‘n elfde keer gaan probeer wen. Murray, wat in Augustus verlede jaar sy raket as beroepspeler gebêre het, sê om saam met die Serwiër te werk, is presies wat hy verwag het:
# Krieketnuus: Die Durban Super Giants hoop om vanjaar een stap beter te doen wanneer hulle SA20-veldtog vandag teen die Pretoria Capitals op die Kingsmead-stadion in Durban begin. Hulle het verlede jaar se eindstryd met 89 lopies teen die Sunrisers Eastern Cape verloor. Kaptein Keshav Maharaj sê hulle het nog ʼn sterk groep spelers met baie wat terugkeer en ʼn paar opwindende nuwelinge, daarom sien hulle uit dat die veldtog moet begin:
Die Referendum Party sê hy neem kennis van die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, se veroordeling van die Afghaanse krieketfederasie se diskriminasie teen vroue. Die minister ondersteun oproepe dat die Proteas volgende maand die Internasionale Krieketraad se kampioenskapstrofee-wedstryd teen Afghanistan boikot. Hy sê daar is morele kommer oor die Taliban-regering se verbod op vrouesport en die ontbinding van die land se vroue-krieketspan in 2021. Die Referendum Party se leier, Phil Craig, sê hulle ondersteun die minister se standpunt:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….