Nuus 08:00
BULLETIN 10 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa sê die regering sal die befondsingsmodel vir plaaslike regering hersien
# Die GOOD-party verwelkom die ekstra fokus op WVK-sake
# En die Amerikaanse Hooggeregshof weier om vonnisoplegging in Trump se swyggeldsaak uit te stel
# Die minister van Plaaslike Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê hulle werk nóύ saam met die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering om die befondsingsmodel vir plaaslike regering te hersien. Die minister het geantwoord op ‘n vraag van die EFF oor planne om die onvoldoende tien-persent toekenning aan munisipaliteite reg te stel. Hlabisa sê die doel is om tekortkominge in plaaslike regeringsbeleid en die instelling daarvan te identifiseer. Hy sê dit sal ook aanbevelings bevat om probleme te hanteer wat plaaslike regering se doeltreffende funksionering belemmer.
# Die GOOD-party verwelkom die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi se skepping van 19 vaste poste by die Nasionale Vervolgingsgesag om sake van die Waarheids- en Versoeningskommissie te ondersoek. Dit sluit ondermeer in ‘n herondersoek na die vreemde omstandighede van die dood in 1960 van die ANC-president en Nobel-vredespryswenner, hoofman Albert Luthuli. Die sekretaris-generaal van die GOOD-party, Brett Herron, sê ‘n behoorlike verduideliking van die regering hoekom hy doelbewus nie die sake na meer as 20 jaar ondersoek het nie, word benodig:
# Tshwane-burgemeester Nasiphi Moya sê hulle sal nie huiwer om verwaarloosde geboue in privaat besit en wat ʼn gevaar inhou vir die middestad se inwoners, te onteien nie. Die burgemeester en die Tshwane-metropolisie het ʼn multidissiplinêre operasie in die middestad uitgevoer om seker te maak verordeninge word nagekom. Moya sê hulle mandaat is om die metro vry te maak van onwettige sakebedrywighede, onhigiëniese voedselgeriewe en gekaapte geboue:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het verkose president Donald Trump se dringende aansoek om vandag se vonnisoplegging in sy swyggeldsaak uit te stel, verwerp. Hy is in Mei verlede jaar skuldig bevind op 34 aanklagte dat hy sakerekords vervals het om voor die 2016-verkiesing swyggeld aan die porno-ster, Stormy Daniels, te betaal. Regter Juan Merchan wat die saak hanteer, het aangedui hy sal Trump nie tronkstraf, boetes of ʼn proeftydperk oplê nie. Sy regslui voer egter aan ʼn skuldigbevinding sal ondraaglike nagevolge hê.
# Krieket: MI Cape Town het ʼn bonuspunt-oorwinning van 97 lopies oor die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, behaal in hul SA20-openingswedstryd op St George’s Park in die Baai. Dewald Brevis het met 57 die meeste lopies bygedra tot die besoekers se 174 vir sewe in hul toegelate 20 boulbeurte. In antwoord daarop het die veelsydige Delano Potgieter vyf paaltjies platgetrek en die tuisspan was na 15 boulbeurte en sonder ʼn bonuspunt op slegs 77 almal uit. MI Cape Town se kaptein, Rashid Khan, sê hy is tevrede met die vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-522-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-673-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….