Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Januarie 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Mededingingstribunaal het die tussentydse aansoek vir die herinstelling van die bankrekeninge van Iqbal Survé se beleggingsgroep Sekunjalo Investment Holdings van die hand gewys. Dié dispuut duur al etlike jare.
# Die Netwerk24-webblad:
Skryf ‘n 36-jarige boer van Musina, Natie Vos is steeds in die hospitaal nadat hy en sy vrou Jean-mari en hul drie kinders op hul plaas aangeval is. Die polisie is op soek na vyf verdagtes.
Dan word berig ‘n aardskudding by die Blyvoor-goudmyn in Carletonville het 20 mynwerkers beseer en die die lewe van een geëis.
En laastens skryf die webblad vier boorgate gaan in Hamilton in Bloemfontein geskink word om te help met die watertekort in die stad.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Berig beide die ANC en MK-party het sy eie probleme. Die ANC veg om sy ou en nuwe bondgenote tevrede te stel. En die MK-party se tekort aan geld en binnegevegte bedreig sy posisie in KwaZulu-Natal.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Onthul dat lede van die MK-party binne die ANC werk om ‘n magsverskuiwing te bewerkstellig na oudpresident Jacob Zuma.
En tweedens skryf die koerant Sekunjalo is van plan om sy stryd teen Nedbank voort te sit.
# Sowetan:
Het met die naasbestaandes van die slagoffers van die gru-ongeluk op die N3 gepraat. Altesaam 18 mense het in die ongeluk omgekom en slegs ‘n 18-maande oue baba het oorleef.
# En The Citizen:
Berig die opmerking van die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi dat die sowat 500 jong werklose dokters die privaat sektor moet oorweeg of oorsee gaan, is deur kenners as skokkend bestempel.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie sê hy sou ‘n sportboikot teen Afghanistan steun as gevolg van die land se Taliban-regering se besluit om vrouesport te verbied en die land se vrouekrieketspan te ontbind.
Dan skryf die koerant Kapenaars sit jaarliks sowat 94-uur in verkeer vas.
En laastens is daar nuus oor die 18-jarige Bronwin van Willing van die Delft High School op die Kaapse vlakte wat na bewering in bende-kruisvuur doodgeskiet is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha :
Berig tientalle kinders het ‘n optog deur Soweto-on-Sea en Zwide gehou om die plaag van geslagsgeweld in hul gemeenskap in die kollig te plaas.
En tweedens is daar nuus oor ‘n beesboerdery wat skeef geloop het en die een eienaar bankrot gelaat en die ander in die tronk laat beland het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die ma van die baba wat die N3-ongeluk oorleef het is opgespoor.
En berig die sogenaamde lugwoede-voorval waarby Nobuntu Mkhize van die SABC betrek word, gaan deur die Menseregtekommissie ondersoek word.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig meer as 120 welsynsorganisasies moet binne 30 dae kontak maak met die Direktoraat van Maatskaplike Dienste of die risiko van deregistrasie loop.
Dan skryf die koerant Shell het aangekondig dat hy sowat 400-miljoen-rand se waarde met betrekking tot sy ontdekking van aflandige olie op PEL39 afskryf.
En laastens word berig die moordbeskuldigde Wentzel Maasdorp is beskryf as ‘n swerwer sonder ‘n stabiele huis of werk en geneigdheid tot geweld. Hy word aangekla van die moord op sy meisie.