Nuus 07:00
BULLETIN 10 Januarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA veroordeel die 24-miljoen-rand wat aan die polisieministerie bestee word
# Die parlementêre polisiekomitee veroordeel die optrede van Mashatile se lyfwagte
# En tennis: Murray sê dis ’n unieke geleentheid om Djokovic af te rig
# Build One South Africa het die jaarlikse uitgawes van 24-miljoen-rand aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu se privaat personeel ten sterkste veroordeel. Die party voer aan hierdie buitensporige uitgawes, wat in antwoord op ‘n geskrewe parlementêre vraag bekend gemaak is, is ‘n misbruik van openbare fondse, veral te midde van uitdagende ekonomiese toestande. Hulle eis dat die geld na dringender behoeftes herlei moet word, soos die verbetering van polisiedienste en openbare veiligheid. Roger Solomons van BOSA vra meer deursigtigheid en aanspreeklikheid in staatsbesteding.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie veroordeel lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se BBP-beskermingseenheid se hardhandige behandeling en swak hantering van ‘n Khayelitsha-inwoner. Die voorval het plaasgevind terwyl adjunkpresident Paul Mashatile met ʼn deur-tot-deur-veldtog besig was in aanloop tot die party se verjaarsdagviering Saterdag in Kaapstad. Die komiteevoorsitter, Ian Cameron, sê hy erken die noodsaaklikheid om die adjunkpresident se veiligheid te verseker, maar dit moet redelikerwys en binne die wet gedoen word.
# Die algemene nywerheidsvakbond, Giwusa, veroordeel die Suid-Afrikaanse Polisie omdat hulle ʼn katrolstelsel vernietig het wat gebruik is om vasgekeerde mynwerkers in ‘n verlate myn in Stilfontein, in Noordwes, na veiligheid te bring. Die vakbond beweer die polisie se optrede het aanleiding gegee tot die dood van meer as 100 onwettige mynwerkers en eis ‘n ondersoek na die voorval. Giwusa-president, Mametlwe Sebei, sê hulle sal met protesoptrede in Klerksdorp begin om geregtigheid vir die mynwerkers te eis:
# Die Durban-landdroshof het uitspraak voorbehou in die borgtogaansoek van twee van die vyf mans wat beskuldig word van die moord op die kletsrymer, Kiernan AKA Forbes en sy vriend, Tebello ‘Tibz’ Motsoane. Die twee is in Februarie 2023 buite die Wish on Florida-restaurant in Durban doodgeskiet. Mziwethemba Gwabeni en Lindokuhle Ndimande het hul borgtogaansoeke heropen wat volgens hulle nuwe feite bevat. Hulle voer aan die staat se saak teen hulle is swak. Intussen wag twee ander verdagtes wat in Eswatini gearresteer is op die beslissing oor die aansoek dat hulle uitgelewer word.
# Die uitvoerende direkteur van One Campaign, David McNair, sê meer as 20 Afrika-lande gaan in 2025 meer aan skuld bestee as aan noodsaaklike dienste, insluitend gesondheidsorg en onderwys. McNair het in gesprek met Africa News gesê hoë leenkoste en stadige skuldherstrukturering vererger die krisis. Hy het ‘n beroep gedoen op globale instellings om leenkoste te verlig tydens Suid-Afrika se G20-presidentskap:
# Tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen, Andy Murray, sê hy kon nie die unieke geleentheid laat verbygaan om sy jare lange teenstander, Novak Djokovic, af te rig nie. Hulle het in November aangekondig hulle gaan saamwerk; met die ooreenkoms wat slegs geldig is tot ná die Australiese Ope wat Djokovic vir ʼn elfde keer gaan probeer wen. Murray, wat in Augustus verlede jaar sy raket as beroepspeler gebêre het, sê om saam met die Serwiër te werk, is presies wat hy verwag het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-207-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-670-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 76-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….