Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Onsekerheid oor Ramaphosa se bywoning van die Mosambiekse presidents-inhuldiging
# Rugby: SA spanne moet wen om die ronde van 16 te haal in Europese kompetisies
# En, prins William skryf ‘n sosiale media boodskap aan prinses Katherine op haar 43ste verjaardag
# President Cyril Ramaphosa het nog nie besluit of hy volgende Woensdag die verkose Mosambiekse president, Daniel Chapo se inhuldiging sal bywoon nie. Onrus na afloop van die verkiesing het vrae oor veiligheid laat ontstaan. Volgens die Presidensie kyk ‘n gevorderde span van die Presidensiële Beskermingsdienste na die veiligheidsvooruitsigte in Mosambiek. Ramaphosa het op die Progressiewe Sakeforum se Presidensiële Gholfdag in Kaapstad gepraat en vreedsame dialoog bepleit tussen Chapo en die opposisieleier, Venancio Mondlane:
# Die Kwaito-legende, Doc Shebeleza, gebore Victor Bogopane, het in die ouderdom van 51 gesterf. Sy familie het vroeër vandag die nuus bevestig. Shebeleza, wat bekend is vir treffers soos Ghets Ghetsa en S’kumfete, het in 1995 bekendheid verwerf en ‘n onuitwisbare stempel op Suid-Afrikaanse musiek afgedruk. Die musikant het lank gesukkel met gesondheidskwessies en het onlangs sy finansiële stryd onthul omdat hy maandeliks meer as 20-duisend-rand aan medikasie moet bestee. Sy heengaan volg op die onlangse dood van die sanger en akteur Winnie Khumalo, wat die musiekgemeenskap in rou gelaat het.
# Die eThekwini Munisipaliteit het die heropening van die uMhlanga Hoof- en Brons-strande bevestig. Dit volg nadat die stad die strande tydelik gesluit het ná berigte op sosiale media van ‘n ongeïdentifiseerde vaste stof wat met die sand op strande gemeng het. Woordvoerder, Gugu Sisilana sê laboratoriumtoetse deur wetenskaplikes van die Wetenskaplike Dienste, vrygestel het bevind dis waarskynlik stukkies vaste vet afkomstig van voedselondernemings:
# Rugby: Oorwinnings hou die sleutel vir al vyf die Suid-Afrikaanse spanne in die Kampioenebeker en die Uitdaagbeker met die spanne wat gereed maak vir die voorlaaste groepwedstryde hierdie naweek. In die Kampioenebeker is slegs die Haaie in die topvier met twee groepwedstryde oor, met die Bulle vyfde en die Stormers sesde. Hulle moet wen om na die ronde van 16 deur te dring. Dieselfde geld die Leeus en die Cheetahs wat hulle tans in die vierde en vyfde plekke in hulle groepe in die Uitdaagbeker bevind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-459-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-672-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-13-sent per vat.
# Ten slotte: Die prinses van Wallis, Catherine, word vandag 43. Haar man, prins William, het haar geprys oor haar krag in die afgelope jaar met haar stryd teen kanker. Kate, soos sy alom bekend staan, het verlede Maart onthul sy is met kanker gediagnoseer, maar nie die soort kanker bekendgemaak nie. William het ‘n foto van ‘n glimlaggende Kate op sosiale media geplaas met sy verjaardagboodskap wat gerig was “aan die ongelooflikste vrou en ma”. Hy het geskyf die krag wat sy die afgelope jaar getoon het, was merkwaardig. Hy het verder gesê George, Charlotte, Louis en hy is baie trots op haar. Die prins het geëindig met “baie geluk met jou verjaarsdag, Catherine. Ons is lief vir jou”.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….