Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Onsekerheid oor Ramaphosa se bywoning van die Mosambiekse presidents-inhuldiging
# AfriForum vra vir dringende optrede na ‘n plaasaanval by Musina, Limpopo
# En, krieket: Cooper Connolly die eerste keer gekies vir Australië
# President Cyril Ramaphosa het nog nie besluit of hy volgende Woensdag die verkose Mosambiekse president, Daniel Chapo se inhuldiging sal bywoon nie. Onrus na afloop van die verkiesing het vrae oor veiligheid laat ontstaan. Volgens die Presidensie kyk ‘n gevorderde span van die Presidensiële Beskermingsdienste na die veiligheidsvooruitsigte in Mosambiek. Ramaphosa het op die Progressiewe Sakeforum se Presidensiële Gholfdag in Kaapstad gepraat en vreedsame dialoog bepleit tussen Chapo en die opposisieleier, Venancio Mondlane:
# AfriForum vra misdade op plase moet as ‘n nasionale prioriteit hanteer word. Dit volg na ‘n gewelddadige plaasaanval deur vyf gewapende aanvallers by Musina waartydens ‘n boer, Natie Vos, en sy gesin gister ernstig beseer is. AfriForum-woordvoerder, Jacques Broodryk, het bevestig vinnige optrede deur plaaslike veiligheidsgroepe het gesteelde goedere teruggevind maar die verdagtes is steeds op vrye voet. Hy beklemtoon die belangrikheid van samewerking in die gemeenskap om hierdie misdade te bekamp:
# Verkope van elektriese en hibriede voertuie in China het verlede jaar met meer as 40,7-persent die hoogte ingeskiet, terwyl die vraag na nuwe energiemodelle aanhou styg en die sektor in ‘n taai prysoorlog gewikkel is. Die Chinese mark vir elektriese voertuie het die afgelope paar jaar merkwaardig gegroei, deels as gevolg van ruim subsidies deur Beijing. Die wêreld se grootste motormark beleef ook hewige mededinging onder plaaslike motorvervaardigers, aangesien ‘n verlangsaming onder verbruikers tot ‘n prysoorlog lei. Daar is bykans 11-miljoen nuwe energievoertuie in 2024 verkoop.
# Krieket: Die Australiese kolwer, Nathan McSweeny, is herroep vir die komende reeks van drie toetswedstryde teen Sri Lanka en die veelsydige Cooper Connolly is die eerste keer ingesluit. Voormalige kaptein, Steve Smith, sal die span aanvoer in die afwesigheid van die gereelde kaptein, Pat Cummins, en Josh Hazlewood kry ʼn blaaskans na ʼn kuitbesering. Die voorsitter van Australië se keurders, George Bailey, sê hulle is opgewonde oor die geleentheid wat op die nuwe lede in die groep wag, terwyl hulle nou met hulle toetsloopbane begin en hulle spel verder kan ontwikkel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-501-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-647-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-9-sent per vat.
# Ten slotte: Gereelde weeklikse oefening van selfs net 60 minute kan vordering van kanker met 27-persent en dood met 47-persent verminder. Dit is volgens navorsing onder leiding van Sport en Gesondheid by die Wits-universiteit. Die studie het anonieme inligting ontleed van die mediese skema, Discovery Health, se Vitality-program om gesondheid te bevorder. Die hoof-outeur, Jon Patricios, sê in ʼn wêreld waar kanker ʼn groot las op openbare gesondheid plaas, kan aanmoediging om fisiese oefening te doen tot belangrike voordele lei wat die vordering, voorkoming en bestuur van kanker betref.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….