Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa lewer sy staatsrede op 6 Februarie
# Die DA in die Wes-Kaap eis ‘n openbare verskoning oor misleidende watergehalte-aansprake
# En, tennis: Die NextGen-kampioen bespreek sy plek in die Australiese Ope se hoofloting
# President Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede op die 6de van volgende maand om seweuur die aand. Daarna sal die Parlement vanaf 11 Februarie ‘n tweedaagse debat daaroor voer en die president sal op die 13de repliek oor die debat lewer. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, bied op 19 Februarie die langverwagte jaarlikse begrotingsrede aan wat die regering se finansiële planne vir die jaar uiteen sit.
# Die Padvragvereniging sê hy is bekommerd oor vertragings by Transnet se Pier 2-vrageindpunt by die Durbanse hawe. Die hawe-operateur het Dinsdag aan klante gesê die tekort aan toerusting soos oorbruggingsdraers belemmer herwinningsoperasies en dienslewering by die eindpunt, weens oponthoude en gure weer. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, het aan die SABC gesê die finansiële en bedryfsgevolge van hierdie vertragings sal eers later die maand of vroeg in Februarie duideliker wees:
# Die DA in die Wes-Kaap eis ‘n openbare verskoning van Project Blue weens sy misleidende aansprake oor die gehalte van water langs Kaapstad se kus. Die munisipaliteit sê Project Blue se verslag het staatgemaak op ongeakkrediteerde laboratoriums sonder wetenskaplike geloofwaardigheid, wat onnodige vrese by inwoners en toeriste veroorsaak het. DA-woordvoerder Dave Bryant versoek Project Blue om ter wille van deursigtigheid en aanspreeklikheid die metodologie vir sy toetse, besonderhede van monsters en befondsingsbronne te openbaar:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet nog sleutelveranderings aan sy doeanestelsel rakende internasionale invoere van e-handel, duidelik maak. Bewerings van Shein en Temu rondom belastingmanipulering het kommer gewek, met plaaslike kleinhandelaars wat onbillike praktyke beweer, soos die verdeling van besendings om hoër belasting te vermy. Volgens ‘n artikel op MyBroadband, het die Inkomstediens ‘n 15-persent Belasting op Toegevoegde Waarde van vaste belastingkoerse en ‘n hersamestelling van vaste belastingtariewe ingestel, maar die volle verklaringswaardes word steeds nie bekend gemaak nie.
# Tennis: NextGen-kampioen, Joao Fonseca, se skitterende reeks vertonings het gelei tot sy eerste hoofloting vir ‘n Grand Slam-toernooi vir die Australiese Ope. Die talentvolle jong Brasiliaanse speler is die tweede jongste kampioen van die NextGen ATP-toernooi sedert Jannik Sinner dit vyf jaar gelede ook op 18 reggekry het. Sy sege van 6-4, 6-1 oor die Argentyn, Thiago Agustin Tirante, was sy 13de agtereenvolgende oorwinning waarmee hy sy plek bespreek het in die Australiese Ope, wat Sondag begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-419-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….