Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is eerste aan die beurt: Die derde SA20 begin vandag met die heersende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, wat MI Cape Town op St George’s Park in die Baai die stryd aansê. Sunrisers se afrigter, Adrian Birrell, het die kern van sy seëvierende span behou en dit versterk met die Engelse internasionale spelers, Zak Crawley, Richard Gleeson en Craig Overton. MI Cape Town wat in 2023 en 2024 laaste geëindig het, het die Protea-witbalspeler, Reeza Hendricks, se hulp ingeroep teen 4,3-miljoen-rand.
Die Australiese kolwer, Nathan McSweeny, is intussen herroep vir die komende reeks van drie toetswedstryde teen Sri Lanka en die veelsydige Cooper Connolly is die eerste keer ingesluit. Voormalige kaptein, Steve Smith, sal die span aanvoer in die afwesigheid van die gereelde kaptein, Pat Cummins, en Josh Hazlewood kry ‘n blaaskans na ʼn kuitbesering. Die voorsitter van Australië se keurders, George Bailey, sê hulle is opgewonde oor die geleentheid wat op die nuwe lede in die groep wag, terwyl hulle nou met hulle toetsloopbane begin en hulle spel verder kan ontwikkel.
# Vervolgens, padwedlope: Die Comrades-marathonvereniging het bekendgemaak die kwalifiseringmaatstaf vir die 98ste Comrades-marathon is vyf ure vir ʼn standaard marathon van 42,2-kilometer, teenoor die 4-uur-50-minute van voorheen. Voorsitter Mqondisi Ngcobo sê die besluit is daarop gemik om die wedloop meer inklusief te maak, sodat ʼn groter verskeidenheid atlete op 8 Junie aan die ikoniese geleentheid kan deelneem. Ngcobo beklemtoon hierdie besluit is ooreenkomstig die waardes van die marathon van broederskap en deursettingsvermoë. Atlete moet hulle kwalifiserende besonderhede teen 5 Mei indien.
# Tennisnuus: Die verdedigende Australiese Ope-kampioen Jannik Sinner van Italië staan voor ‘n groot uitdaging in die eerste ronde teen die mokerhou-speler, die Chileen Nicolas Jarry. Sinner is in dieselfde helfte as die Amerikaner Taylor Fritz en die Rus Daniil Medvedev. Die tienmalige kampioen Novak Djokovic, wat in die kwarteind te staan kan kom teen Carlos Alcaraz van Spanje, speel in die eerste ronde teen die Amerikaner Nishesh Basavareddy. Intussen begin Aryna Sabalenka van Belarus in die vroueafdeling haar poging om ‘n derde agtereenvolgende titel in te palm teen die 2017 Amerikaanse Ope-wenner, Sloane Stephens van die VSA.
# Ons sluit af met atletiek: UK Athletics word aangekla van korporatiewe manslag, en sy voormalige hoof van sport, Keith Davies, van growwe nalatige manslag na die dood van ʼn Paralimpiese gewigstoter in 2017. Abdullah Hayayei het gereed gemaak om die Verenigde Arabiese Emirate by die Wêreld Para-atlektiekkampioenskap in gewigstoot, skyfwerp en spiesgooi te verteenwoordig toe ʼn metaalhok op hom geval het. Die tragedie het by Newham-ontspanningsentrum in Londen plaasgevind. UK Athletics en Davies sal op 31 Januarie in die Westminster-landdroshof verskyn.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….