Nuus 08:00
BULLETIN 9 Januarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF gaan ‘n Wetsontwerp op die Kansellasie van Studenteskuld voorstel
# Die GOOD-party neem kennis van die uitspraak oor die publikasie van die matriekuitslae
# En die dodetal in die Los Angeles-veldbrande het tot vyf gestyg
# Die EFF sê hy gaan as privaat lid ‘n wetsontwerp in die Parlement voorstel om studenteskuld te kanselleer. Die nasionale skuld van studente het sedert 2017 toegeneem van sowat elf-miljard-rand tot ongeveer 17-miljard-rand in 2024. Dit kom neer op ʼn gemiddelde toename van twee-miljard-rand per jaar. EFF-woordvoerder Sihle Lonzi sê die wetsontwerp wil alle studenteskuld afskryf en ʼn kwalifikasie-register skep. Dit sal ʼn sentrale regeringsliggaam wees wat die verspreiding en administrasie van kwalifikasies en sertifikate oorneem:
# Die GOOD-party sê die Inligtingsreguleerder en die Departement van Basiese Onderwys moet in die toekoms saamwerk om ʼn manier te vind om die matriekuitslae te publiseer. Die Hooggeregshof in Pretoria het die reguleerder se aansoek om te keer dat die 2024-matriekuitslae in die media gepubliseer word, van die hand gewys. GOOD se sekretaris-generaal Brett Herron, sê omdat die uitslae nou slegs volgens eksamennommer gepubliseer word, moet die balans van gesonde verstand ten gunste van beskerming van privaatheid wees:
# ActionSA is vol lof vir die Tshwane-munisipaliteit, onder leiding van burgemeester Nasiphi Moya, oor die herstel van skoon, drinkbare water aan Hammanskraal deur Fase 1 van die Klipdrift-watersuiweringsaanleg-projek. Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, sê hierdie samewerking met Magalies Water en ander vennote is ‘n transformerende stap vir gemeenskappe wat lank basiese dienste ontsê is. Hy sê hierdie mylpaal is ‘n model van etiese, veelparty-bestuur wat grondwetlike regte in ag neem.
# Die dodetal in veldbrande wat in die Los Angeles-gebied in Amerika woed, het tot vyf gestyg en meer as ʼn duisend strukture is vernietig. Amptenare berig die brande in Palisades, Eaton, Hurst, Woodley en Lidia is heeltemal buite beheer terwyl sterk wind en uitgeputte hulpbronne die brandspanne kniehalter. Meer as 100-duisend mense in Eaton moes hul wonings verlaat en 37-duisend het van die Palisades-brand gevlug. Los Angeles se brandweerhoof, Kristin Crowley, sê die brande versprei steeds vinnig:
# Krieket: Die derde SA20 begin vandag met die heersende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, wat MI Cape Town op St George’s Park in die Baai die stryd aansê. Sunrisers se afrigter, Adrian Birrell, het die kern van sy seëvierende span behou en dit versterk met die Engelse internasionale spelers, Zak Crawley, Richard Gleeson en Craig Overton. MI Cape Town wat in 2023 en 2024 laaste geëindig het, het die Protea-witbalspeler, Reeza Hendricks, se hulp ingeroep teen 4,3-miljoen-rand.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 19-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-353-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-659-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 75-dollar-87-sent.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….